Dordtse Leerreëls
Hierdie Belydenisskrif was die beslissing van die Nasionale Sinode van die Gereformeerde Kerke van die Verenigde Nederlande, wat in die jare 1618 en 1619 in Dordrecht gehou is, oor die bekende vyf leerstellings van die Remonstrante waaroor daar in die Gereformeerde Kerke verskil ontstaan het.
Voorwoord
IN DIE NAAM VAN ONS HERE EN SALIGMAKER JESUS CHRISTUS, AMEN
Die Here, ons Verlosser Jesus Christus, het ’n uiters groot aantal vertroostinge in hierdie ellendige bestaan aan sy strydende kerk gegee. Tereg word die troos wat Hy, by sy vertrek na sy Vader in sy hemelse heiligdom, vir die kerk agtergelaat het, as die belangrikste beskou. Hy het naamlik gesê:
“Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld” (Matt. 28:20).
Die waaragtigheid van hierdie allersoetste belofte skitter duidelik in die kerk van alle tye. Dit is immers van die begin af nie alleen deur openlike geweld van die vyande daarvan en deur die goddeloosheid van ketters geteister nie, maar ook deur die openlike slinksheid van verleiers. As die Here sy kerk trouens ooit in die heilsame bystand van die belofte van sy nabyheid in die steek sou gelaat het, sou dit lankal deur die geweld van tiranne onderdruk of deur die bedrog van bedrieërs die verderf in verlei gewees het. Maar Hy, die goeie Herder, het sy kudde vir wie Hy sy lewe afgelê het, met die grootste standvastigheid liefgehad; Hy het altyd betyds en dikwels met sy uitgestrekte hand die woede van die vervolgers van die kerk wonderbaarlik onderdruk en die kronkelpaaie en bedrieglike planne van verleiers ontmasker en vernietig. In albei gevalle het Hy getoon dat Hy sy kerk ten nouste naby is.
Daar bestaan voortreflike getuienis hiervan in die annale van godvrugtige keisers, konings en prinse wat die Seun van God so dikwels verwek het om sy kerk by te staan en met heilige ywer vir sy huis laat brand het. Deur hulle toedoen het Hy nie alleen die woede van tiranne aan bande gelê nie, maar ook die middels van heilige Sinodes aan die kerk voorsien wanneer dit in ’n stryd met valse leraars gewikkel was wat die godsdiens op verskillende maniere vervals het. In hierdie Sinodes het getroue diensknegte van Christus met gesamentlike gebede, besluite en inspanning ten behoewe van die kerk en die waarheid van God moedig stand gehou en die kerk onverskrokke teen die dienaars van die Satan beskerm, ten spyte daarvan dat hulle hulle in engele van die lig verander het. Verder het hulle die saad van dwalings en tweedrag uit die weg geruim, die kerk in eensgesindheid van die suiwer godsdiens bewaar en die opregte diens aan God onvervals aan die nageslag oorgelewer.
Ons getroue Verlosser het sy genadige nabyheid in hierdie tyd met ’n soortgelyke weldaad aan die kerk in Nederland betuig wat verskeie jare lank tot die uiterste toe beproef is. Hierdie kerk is trouens deur die magtige hand van God van die tirannie van die Roomse Antichris en die verskriklike afgodediens van die pousdom verlos; so dikwels is dit in die gevare van langdurige oorlog wonderbaarlik beskerm en dit het tot lof van sy God, tot wonderlike groei van die staat en tot blydskap van die ganse Gereformeerde wêreld in die eensgesindheid van die ware leer en tug geblom.
Jakobus Arminius en sy navolgers, wat as Remonstrante bekendstaan, het dit daarna egter eers in die geheim maar uiteindelik in die openbaar met verskeie onbekende sowel as nuwe dwalinge aangeval. Hierdeur is die kerk hardnekkig deur afstootlike twis en skeuring in beroering gebring en hulle het dit in so ’n groot krisis gedompel dat die mees bloeiende kerk as gevolg van die verskriklike brand van twiste en skeuring uiteindelik in vlamme sou opgegaan het as die ontferming van ons Verlosser nie betyds tussenbeide getree het nie.
Maar aan die Here kom lof toe tot in ewigheid. Nadat Hy vir ’n rukkie sy aangesig vir ons verberg het omdat ons sy toorn en verontwaardiging op baie maniere uitgelok het, het Hy aan die hele wêreld bewys dat Hy sy verbond nie vergeet het nie en dat Hy die versugtinge van dié wat aan Hom behoort nie verontagsaam nie. Menslikerwys kon daar beswaarlik enige teenmiddel te voorskyn tree. Daarom het Hy die ingewing aan beroemde maghebbers in die State Generaal van die Nederlandse verbond gegee om volgens die advies en aanwysing van die deurlugtige en moedige Prins van Oranje die beslissing te neem om hierdie euwels wat hulleself uitwoed, met wetlike middels teen te gaan.
Hierdie middels was volgens die voorbeeld van die apostels en dié wat daarop gevolg het, met die lang verloop van tye deur die Christelike kerk goedgekeur en tevore ook met groot vrug in die Nederlandse kerk gebruik. Hulle het ook besluit om uit al die provinsies waaroor hulle bevel gehad het, op hulle eie gesag ’n Sinode by Dordrecht byeen te roep nadat hulle daartoe versoek is en hulle ook begunstig is deur die baie vriendelike en magtige koning van Groot Brittanje, Koning Jakobus, uitmuntende prinse, rade en state en hulle hierbenewens ook ’n baie groot aantal van die belangrikste teoloë bekom het.
Hulle doel was dat die leerstellings van Arminius en sy navolgers deur ’n algemene oordeel van soveel teoloë sorgvuldig in ’n plegtige Sinode ondersoek kon word; sodat daaroor uit die Woord van God alleen geoordeel kon word; verder dat die ware leer bevestig en die valse leer verwerp kon word, en dat eensgesindheid, vrede en rus met God se seën weer in die kerke in Nederland herstel kon word. Dit is oor hierdie weldaad van God waaroor die Nederlandse kerke verheug is, en hulle erken nederig die getroue medelye van hulle Verlosser en verkondig dit met dankbaarheid.
Hierdie agbare Sinode is gevolglik op gesag van die hoogste owerheid in al die kerke in Nederland voorafgegaan deur die aansegging en huldiging van vas en gebede om God se toorn af te bid en Hom om sy genadige bystand te smeek. Die Sinode is aangevuur deur liefde vir die mag van God en vir die welvaart van die kerk en het in Dordrecht in die Naam van die Here vergader. Na aanroeping van God se Naam, is die Sinode deur ’n heilige eed daartoe verbind om die Heilige Skrif alleen as maatstaf vir sy beoordeling te aanvaar en in die ondersoek en oordeel van hierdie saak met ’n goeie en onpartydige gewete op te tree.
Die Sinode het ywerig en met groot geduld daaraan gewerk om die belangrikste voorstanders van hierdie leerstellings voor hulle te daag en hulle daartoe te beweeg om hulle opvatting oor die vyf bekende hoofpunte van hulle leer en die redes vir hulle opvattings vollediger uiteen te sit. Hulle het egter die oordeel van die Sinode verwerp en geweier om op ’n billike manier op die vrae te antwoord. Nóg die teregwysing van die Sinode, nóg die opdragte van die uitmuntende en magtige verteenwoordigers van die State Generaal, ja, selfs nie eens die bevele van die uitnemende maghebbers van die State Generaal kon by hulle enige vordering maak nie.
Daarom is die Sinode op las van dieselfde maghebbers en volgens ’n gewoonte wat al lankal reeds in Sinodes van ouds in swang was, genoodsaak om ’n ander weg te betree. Daar is dus ’n ondersoek ingestel na daardie vyf hoofpunte van hulle leerstellings uit hulle geskrifte, belydenisse en verklarings wat gedeeltelik reeds tevore uitgegee is en gedeeltelik aan hierdie Sinode beskikbaar gestel is.
Deur die sonderlinge genade van God is hierdie ondersoek met die grootste sorgvuldigheid, betroubaarheid en goeie gewete, en met die instemming van almal saam en elkeen afsonderlik afgehandel. Gevolglik het hierdie Sinode besluit om tot Gods eer en met die oog daarop om die suiwerheid van die heilswaarheid, die rustigheid van ons gewetens en die rus en welvaart van die Nederlandse kerk ter harte te neem, die volgende beslissing bekend te stel. Hierin word die Sinode se opvatting wat waaragtig en in ooreenstemming met die Woord van God is, oor die voorgenoemde vyf hoofpunte van hulle leer uiteengesit en as vals en in stryd met die Woord van God verwerp.