Dr Ben du Toit was ‘n bekende persoonlikheid in die NG Kerk en spesifiek in die organisasie van die kerk. Sy alternatiewe sienings van tradisonele kwessies was net so bekend. Ek gaan nie daarop in nie, maar bepaal my by sy onlangs boek, God: Is daar ‘n ander antwoord? (Lapa Uitgewers 2020)
Die boek het onder my aandag gekom in ‘n artikel in die Vrye Weekblad oor ‘n gesprek tussen hom en ‘n sekere Chris Tomas (skuilnaam) oor die boek en oor sy reis na “bevryding”. Chris Tomas laat dit duidelik in die artikel blyk dat hy die saak veel meer aggressief as Dr du Toit sou aangepak het. Ek haal aan:
“Ons praat vir twee en ‘n half ure. Soms driftig, want daar is nuanses waaroor ons al jare lank verskil. Dit gaan meestal oor aanslag - ek wil godsdiens uitroei. Maar oor God stem ons heelhartig saam: Hy bestaan slegs in die verbeelding.”
Hy sluit die artikel af met: “My kritiek op die boek is dat Ben nie ver genoeg gaan nie. As die kerk reeds eeue lank ‘n leuen verkondig wat nou, uiteindelik, deur ‘n amptenaar van die kerk erken word, is dit nodig dat die kerk verskoning aanteken en vergoeding aanbied”.
My eerste stukkie kommentaar gaan oor Chris Tomas, die artikelskrywer (ek het ‘n sterk vermoede wie die persoon is). Hy is duidelik ‘n aggressiewe ateïs. My ervaring met eintlik alle ateïste waarmee ek al te doen gekry het is dat ‘n debat sinneloos is en meestal in neerhalende etikettering eindig. Dit is in teenstelling met die styl wat Dr du Toit deurgaans in sy boek en onderhoude gevolg het. Hy wil homself daarom ook nie ‘n ateïs noem nie want hy wil nie met die meerderwaardige houding van ateïste geassosieer word nie.
Ateïste se vertrekpunt en roem is dat hulle rasioneel is. Die waarheid is in die Rede gesetel en die Rede seëvier altyd. Dit val op hoe Chris Tomas hiervan afwyk. Eerstens in sy gebruik van die woord leuen. ‘n Leuen is ‘n opsetlike of bewustelike valse voorstelling. Om die verkondiging van die Evangelie deur die kerk as ‘n opsetlike of bewustelik valse voorstelling te beskryf is meer as net opportunisties. Tweedens is die stelling dat dit nou “..eindelik deur ‘n amptenaar van die kerk erken word..” ewe bedenklik. Dr du Toit het nie sy boek as amptenaar van die kerk geskryf nie. Hy was reeds afgetree. Verder impliseer die stelling dat hy namens die kerk praat. Hy doen dit definitief nie. Daar kan tog slegs ‘n verpligting op die kerk rus om verskoning aan te teken as ‘n verteenwoordiger van die kerk ‘n leuen erken? Hy het glad nie namens die kerk gepraat nie, dit was ‘n persoonlike ontboeseming wat eerder kritiek op die kerk was. Kon Chris Tomas dit nie raaksien nie?
My ervaring met ateïste is dat jy op ‘n baie seer toon trap as jy logiese foute in hulle argument uitwys. Logika is dan ‘n kernkomponent van hulle belydenis.
Dr du Toit se reis op sy pad na “bevryding” kom al van ver af. In die proses het hy openlik gevestigde religieuse opvattings bevraagteken het. Buiten die boek onder
bespreking is die ander een wat opskudding veroorsaak het, God? Geloof in ‘n postmoderne tyd (CLF-Uitgewers 2000).
In die boek God Is daar ‘n ander antwoord? eindig hy elke hoofstuk met ‘n een paragraaf-opsomming van die kern daarvan. Die lys van opsommings lyk soos volg
DUS:
• Die soeke na kennis, na die waarheid, na begrip vir geloofwaardige inligting, is ’n interdissiplinêre uitdaging.
• Skouspelagtige ontwikkelings (nuwe teorieë) in die wetenskap en tegnologie is die kenmerk van die moderne wetenskaplike tydperk.
• ’n Positiewe invloed van die ontwikkelende moderne wetenskap op godsdiens/teologie kan aangetoon word.
• Maar waarmee die wetenskap die kerk/geloof nie kan help nie, is die bevestiging van ’n geloof in God (God is nie wetenskaplik bewysbaar nie).
• Vandag word die gesag en mag, asook die noodsaak van God of van die kerk (godsdiens), veral in die Weste, toenemend deur die ontwikkelende moderne wetenskap uitgedaag – en word die gevolgtrekking gemaak dat die mens ouer as God is. In hierdie sin is daar niks “in die hemel” wat nie op die aarde gemaak is nie.
• Dat die greep van godsdiens op miljoene mense sal voortduur (vrees vir die dood/straf/lyding; soeke na sin – ’n psigies-gekondisioneerde toestand) kan wetenskaplik aangetoon word.
• Die onderskeid tussen godsdiens en spiritualiteit gaan (dus) nie op wanneer iemand daarmee meen om van die probleme van godsdiens (soos formalisme, dogma en strukture) te ontkom nie – en nou “die spirituele” as ’n nuwe tuiste aangryp. Ook enige vorm van spiritualiteit het soos alle godsdienste ’n fundamentalistiese vertrekpunt.
• Evolusie van godsdiens? Dieselfde evolusionêre proses wat die moontlikheid van godsdiens tot gevolg gehad het, is nou verantwoordelik vir die uitfasering daarvan as ’n noodsaaklike faktor in die oorlewing van die menslike spesie.
• Die vrees en huiwering wat daar mag wees om “uit die kas te kom” sover dit jou afskeid van die geloof in metafisiese magte aanbetref, kan oorwin word deur die waarheid oor jouself en die wêreld waarin jy woon in die oë te kyk.
• Vanuit ’n post-teïstiese posisie leef ons met die ideaal van ’n radikaal bevrydende humaniteit.
Dit is dalk nie so duidelik uit sy opsomming van die inhoud hierbo nie, maar dit is duidelik uit die boek en uit ‘n ander onderhoud met hom deur Jean Oosthuizen dat sy reis na “bevryding” om die volgende kwessies gedraai het:
-
Die kerk en gelowiges se selektiewe toepassing van die liefdesgebod blyk iets te wees wat Dr du Toit deurgaans gekwel het. Die wreedheid van mense en spesifiek gelowiges teenoor mekaar, deur die eeue heen is vir hom onversoenbaar met ‘n God van liefde en met ‘n belydenis van naasteliefde. Hy verwys ook na die Afrikaanse hoofstroom kerke en meer spesifiek na die NG Kerk. Uit die aard van die saak gaan dit hier hoofsaaklik oor Apartheid en die kerk se goedkeuring daarvan, of minstens die kerk se apatiese gesindheid daarteenoor. Die NG kerk se heen-en-weer-hantering van die LGBT-kwessie val vir hom ook in hierdie kategeorie en dit blyk ook ‘n groot steen des aanstoots te wees. Hy gee wel erkenning aan die kerk se uitreikaksies om die lot van mense te verbeter, maar dit kanselleer nie die primêre probleem nie.
-
Tweedens, die onversoenbaarheid van drie aanvaarde eienskappe van God met mekaar, naamlik almagtig, alwetend en liefdevol. Volgens hom is die empiriese getuienis oorweldigend dat net twee van die drie gelyktydig waar kan wees. Die grootskaalse lyding en verdriet op die aarde deur die eeue is versoenbaar met ‘n almagtige en alwetende God, maar nie met een wat ook liefdevol is nie.
-
Die toenemende rol wat die ontwikkelende wetenskap speel in die begrip van kosmologiese en ander vraagstukke blyk ‘n groot stepping stone in Dr du Toit se reis te wees. In ‘n moderne en post-moderne wêreld slaag die wetenskap (meerdere dissiplines) toenemend daarin om alle groot vraagstukke te verklaar. Die wetenskap kon ook die kerk en geloof op bepaalde terreine help, maar nie as dit kom by die bewys van die bestaan van God nie. Dit is nie wetenskaplik bewysbaar nie.
-
Uit die vorige punt volg dan vir hom dat die greep wat godsdiens op mense het, eerder ‘n psigologiese oorsprong het as wat dit die gevolg van ‘n metafisiese, goddelike werking is. Soos wat die wetenskap vorder en mense se omstandighede verander, gaan mense die behoefte aan ‘n metafisiese god toenemend ontgroei - soos wat dit reeds in die ontwikkelde wêreld duidelik is. Dit geld vir alle gode, nie net die drie-enige God nie. Aan die ander kant gaan die situasie en omstandighede van bepaalde gemeenskappe die psigologiese behoefte aan en drang na ‘n metafisiese mag stimuleer en sal godsdiens in bepaalde gemeenskappe voortduur.
-
Godsdiens los nie probleme op nie. Dit skep eerder probleme. Die verlossing lê in die wetenskap.
-
Die reis na ‘n post-teïstiese bestemming lei tot ‘n radikaal bevrydende humaniteit.
My kommentaar:
Dr du Toit het duidelik ‘n jarelange stryd met spesifiek die NG Kerk. Hy kom uit ‘n
Malawiese en Zimbawiese sendelinghuis en wou van vroeg reeds predikant word.
Maar dit is ook duidelik dat hy baie vroeg reeds bepaalde kwessies met die kerk
ontwikkel het. Die kerk se onkritiese ondersteuning van en vrede met Apartheid blyk
die eerste kwessie te wees.
Ek kan self goed met hierdie punt assosieer. Die drie hoofstroom Afrikaanse kerke kan wat dit betref grootliks oor dieselfde kam geskeer word. In 1977/78 het ek ook my lidmaatskap met die Gereformeerde kerk om dieselfde rede bevraagteken.
Die punt hier is dat die kerkorganisasie, kerkleiers en ander lidmate deur hulle optrede soms ‘n valse eenheid en valse vroomheid bewerk. Onder meer omdat die lidmate en kerkleiers self deur ideologieë verlei word en daar dan ‘n duidelike kloof ontstaan tussen die belydenis van Sondag en bepaalde fasette van die lewe van die week. Afrikaner-nasionalisme was deurentyd ‘n groot verleier. En op ‘n vroeër stadium het ‘n vorm van nasionaal-sosialisme ook ‘n rol gespeel.
Dan is dit doodeenvoudig ook so dat die kerk vir homself met verloop van tyd ‘n organisatoriese doolhof geskep het. Kyk maar hoe lank dit neem om ‘n ietwat kontensieuse saak af te handel en kyk na die draaie en swaaie wat soms gegooi word. Die hantering van LGBT kwessie in die NG kerk was vir Dr du Toit ‘n goeie voorbeeld. Kerkeenheid is ‘n hekkie waaroor dikwels gestruikel word. Dit is waarskynlik ook die rede vir die toenemende irritasie onder lidmate en predikante met sinodale aktiwiteite, ook in die Gereformeerde kerk.
Die alternatief vir iemand wat hom vasloop teen ‘n kerkorganisasie se ingesteldheid en hantering van sake is voor die handliggend. Daar is meestal goeie alternatiewe. Die kerkgeskiedenis is besaai met voorbeelde van beswaardes wat by ander kerke aangesluit het of nuwe kerkgenootskappe gestig het. Die Gereformeerde kerk is self die resultaat daarvan.
Die belangrike vraag vir my hier is hoe verskille met die kerk t.o.v. die toepassing van Bybelse beginsels momentum gee aan ‘n reis na post-teïsme? Die probleem lê tog eerstens by die bepaalde kerk, by die organsisasie en sy mense, en nie by die onderliggende beginsels nie. Die antwoord is waarskynlik deels dat die ontnugtering met die geloofwaardigheid van kerkleiers en met die organisasie, ‘n breër skeptisisme laat ontwikkel het. Maar daar is moontlik nog ‘n verklaring. Ek om terug daarop.
Die vraag oor hoe ‘n liefdevolle God soveel verdriet en lyding in die wêreld toelaat is ‘n baie ou vraag. En dit is ‘n geldige vraag want die antwoord is nie so voor die handliggend nie. Dit is ‘n komplekse saak waarmee teoloë ook al baie geworstel het. As jyself, of iemand naby aan jou ernstig beproef word kom die vraagtekens terug. As jy ‘n kind verloor, of ‘n lang lyding ondergaan, of ‘n droogte van vyf jaar moet verduur, dan is die saak dikwels nie meer so helder soos voorheen nie.
Daar is antwoorde. Sommige duideliker as ander. En daar is heelwat bronne. Maar die werklike antwoord kom nie in die vorm van ‘n eenvoudige stelling nie. Die kort antwoord draai om die feit dat die goedheid wat in die wêreld is en die vermoë om die regte keuses te maak nie sou kon bestaan sonder die vermoë om ook verkeerde keuses te kan maak en slegte gevolge te veroorsaak nie. Dit is natuurlik meer kompleks as wat ek dit hier skryf en baie makliker om die teorie te verstaan as wanneer mens dit self belewe. Lees gerus Udo Karsten se uiteensetting in
www.antwoord.org.za met die titel “As God in beheer is, hoekom lyk die wêreld so?” Daar is al baie oor die onderwerp geskryf en die webblad bevat ook heelwat verwysings daarna. Die bekende Amerikaanse predikant Tim Keller verduidelik dit ook in sy boek, Walking with God through pain and suffering.
In die worsteling met die sin van lyding is dit belangrik om in gedagte te hou dat as ‘n mens alles sou kon verstaan en verklaar, dan het jyself saam met God buite die wêreld en die wetenskap gestaan. Dit ons nog nie beskore nie.
Die voorbeelde wat Dr du Toit noem in sy oordeel oor gelowiges en godsdiens in ‘n wêreld vol lyding, gaan ook nie almal heeltemal op nie. Sy aanname dat die Holocaust ‘n religieuse basis gehad het en dat die Jode uitgeroei is omdat hulle Christus doodgemaak het, is hoogs aanvegbaar. Daar was heelwat kritiek op die party en sy ideologie vanuit bepaalde Lutherse kringe. Teoloë wat die Naziparty ondersteun het, het dit hoofsaaklik vanuit ‘n anti-semitiese oogpunt gedoen. Die Holocaust was kultureel en etnies, eerder as religieus, gemotiveer. Jode wat hulle tot die Christendom bekeer het, is ook deur die Nazis uitgedryf en vervolg. Soos Helga Basel, die moeder van Pieter-Dirk Uys wat van Joodse afloms was maar haar tot die Christendom bekeer het. Religie is bloot aan die hare bygesleep.
Dr du Toit het sekerlik in sy loopbaan alle kante van die lydingdilemma bekyk. Die probleem is dat sy boek nie regtig op’n analitiese of filosofiese wyse hiermee omgaan nie. Hy volstaan eintlik met die stelling dat die getuienis oorweldigend is dat daar nie ‘n almagtige, alwetende en liefdevolle God kan wees nie. Dit sou slegs anders kon wees as God lyding uit die weg geruim het.
Dr du Toit se reis na “bevryding” word ook aangehelp deur sy siening dat die wetenskap toenemend ‘n sinvolle verklaring vir alle groot vraagstukke bied, maar dat daar geen verklaring is vir die bestaan van ‘n metafisiese god nie.
Net soos by die vorige punt ontbreek daar hier ook ‘n gestruktureerde beredenering.
Waarom? Hy het die saak sekerlik al van alle kante bekyk en die tersaaklike literatuur
bestudeer.
Waarom behandel hy nie die filosofiese en kosmologiese kwessies van oorsaak, begin en gevolg nie? Dit is nie sake wat afhang van sy siening van en verhouding met die NG Kerk nie. Dit is ook nie iets wat noodwendig afhanklik is van die bestaan van ‘n liefdevolle drie-enige God nie. ‘n Enkelvoudige almagtige wese, buite die wetenskap, tyd en ruimte, sou moontlik reeds ‘n deel van die antwoord kon uitmaak.
Dit is aksiomaties dat alles wat ‘n begin het, ‘n oorsaak moet hê. En daardie oorsaak moet buite dit wat begin het staan. Dit geld uiteraard ook vir die Heelal. Daar is vandag baie sterk wetenskaplike ondersteuning vir die aanname dat die Heelal ongeveer 13,7 biljoen jaar gelede ontstaan het. As die Heelal nie ‘n begin gehad het nie, dan was dit van ewig af. Maar so ‘n aanname loop hom vas teen sterk argumente teen ‘n fisiese ewigheidskonsep. Ewigheid/oneindigheid is ‘n teoretiese konsep. Dis nie prakties bereikbaar nie. (Die stelling dat God van ewigheid bestaan is nie tegnies/taalkundig korrek nie. God staan buite die tyd.) Ons kan dus ook nie praat van “voor” die ontstaan van die Heelal nie. Daar kan nie ‘n “voor die Heelal” wees nie, want tyd is ‘n intrinsieke, endemiese komponent van die Heelal.
Dit wat in die populêre media verskyn oor parallelle heelalle of opeenvolgende heelalle is spekulatief en het nie ‘n wyd erkende wetenskaplike basis nie. Dit is bloot hipoteses. In my eie twee jaar Astronomie studie aan die UCLAN is dit nooit eers genoem nie. Dit word vandag wyd aanvaar dat die Heelal (en tyd) met die sg Big Bang begin het. (Universe - 7th edition, Roger A. Freedman en William J Kaufmann).
Die bekende en gerekende fisikus Stephen Hawking, wat nie gelowig was nie, het by geleentheid toegegee dat die feit dat die Heelal ‘n begin gehad het religieuse raakpunte het, maar noem dan dat die meeste fisici vandag geneig is om weg te skram van religieuse verklarings. In sy boek The Grand Design , Stephen Hawking & Leonard Mlodinow, Bantam Press 2010, skram hy self weg van ‘n intelligente skeppingsidee en verkies om van ‘n “spontaneous creation” te praat.
Daar is dan nog die ander kwessie van intelligente ontwerp. Dit is ook aksiomaties dat kompleksiteit nie geredelik die gevolg van natuurlike ontwikkeling is nie. As kompleksiteit sekere grense oorskry dan was daar super-waarskynlik berekende intervensie. Byvoorbeeld, vir ‘n bepaalde spesie om sterker en vinniger te word, is normale ontwikkeling en natuurlike seleksie meestal voldoende. Maar ‘n radikale en massief-komplekse verandering, soos die ontstaan van DNS of die vermoë om aan ‘n mag te kan glo wat nie sintuiglik waarneembaar is nie, vereis iets ingrypends soos intelligente ontwerp.
Soos reeds genoem maak Dr du Toit staat op die moderne wetenskap in sy soeke na antwoorde op lewensvraagstukke. Die antwoord op die vraag waarom soveel mense in ‘n opperwese glo vind hy in die psigologie. Dit is natuurlik nie heeltemal onwaar nie. ‘n Mens se besef van sy eie onvolkomenheid en afhanklikheid van sterker kragte as hyself kan sekerlik ‘n behoefte aan bonatuurlike beskerming stimuleer. Maar die inherente vermoë om dit te kan doen, is waarskynlik eerder die gevolg van ontwerp as van natuurlike ontwikkeling. Dit beteken nie dat natuurlike ontwikkeling uit die proses uitgesluit was nie, maar dat die ontwikkeling “gerig en bestuur” was.
Dr du Toit se slotsom is dat godsdiens nie probleme oplos nie maar probleme skep. Die wetenskap los probleme op. Die mens het God geskep, nie andersom nie.
Ek wil kortliks terugkom op die vraag waarom Dr du Toit nie werklik ‘n gestruktureerde bendadering volg in sy reis na “bevryding” nie. Hy noem bepaalde aspekte maar trek nie die lyne deur nie. Hier is die aspekte kortliks weer:
- Die oënskynlike onversoenbaarheid van ‘n liefdevolle God met die grootskaalse pyn en lyding deur die eeue heen.
-
Die volhardende en ooglopende konflik tussen gelowiges se belydenis en hulle optrede - met besondere verwysing na die Afrikaanse kerke en Apartheid.
- Die rol van die wetenskap wat toenemend meer en beter antwoorde op lewensvraagstukke gee.
- Die bestaan van ‘n metafisiese god is nie bewysbaar nie en is die produk van ‘n psigologiese proses - God is deur die mens geskep.
Die bestaan of nie-bestaan van ‘n metafisiese god is nie eenduidig uit die wetenskap bewysbaar nie. Die wetenskap, die geskiedenis en filosofie kan wel bepaalde aannames in diè verband ondersteun. Dit beteken dat ‘n debat oor hierdie saak nie voldoende is nie. ‘n Mens moet ‘n pad daarmee stap. Dis ‘n pad met aanwysings maar daar is ook afdraaipaaie waar die aanwysings nie duidelik is nie. Die werklike oortuiging volg na ‘n reis op hierdie pad. En daar is tydens die reis ook versoekings om ‘n afdraaipad te neem. Dit werk na beide kante toe.
Ek dink Dr du Toit het op sy pad ‘n (dalk onbewuste) voorkeur vir ‘n bepaalde bestemming ontwikkel. Daarom het hy dit nie nodig gevind om ‘n sistematies- konsekwente proses te volg nie. Sy kompas was reeds ingestel op post-teïsme as bestemming. Toe hy ‘n aantal argumente of sentimente in daardie rigting gehad het, was dit vir hom goed genoeg. Net soos wat die argumente wat ek het ten gunste van die bestaan van ‘n Drie-enige God vir my genoeg is. Ek het my bestemming gekies en ek glo die bestemming het my gekies.
Die les vir die kerk is dat hy op die regte pad moet bly en nie deur ideologieë (nasionalisme, kapitalisme of wat ookal) verlei moet word nie. Verder moet die kerkorganisasie voortdurend daarteen waak om nie empire te bou en self die middelpunt te wil raak nie. En ook nie gebruike en tradisies in beginsels laat verander nie. Hier dink mens o.a. aan liturgiese gebruike, kleredrag, ens.
Die les vir Christengelowiges is dat ‘n eenmalige belydenis en sporadiese denke oor geloofsake nie voldoende is nie. Dit lei maklik tot apatie en verleiding deur ander argumente. Geloof groei en word versterk deur ‘n lewensreis in ‘n ondersteunende omgewing soos ‘n geloofsgemeenskap. Dis nie ‘n sprokiesverhaal nie. Dis ‘n stryd, maar wel ‘n stryd met ‘n volkome eindbestemming.