Inleiding
Die regsinnige Christelike belydenis van die Nederlandse kerke wat die hoofinhoud van die leer in verband met God en die ewige saligheid van siele insluit. In ’n tyd van groot vervolging van Protestantse Kerke is hierdie Belydenisskrif deur Guido de Brès opgestel. Dit was in die jaar 1561 in die Suidelike Nederlande (vandag België). Verskeie Sinodes in die 16de eeu asook die Nasionale Sinode van Dordrecht (1618-1619) het dit as een van die Belydenisskrifte van die Gereformeerde Kerke aanvaar.
Artikel 1: Die Enige God
Ons glo almal met die hart en bely met die mond¹ dat daar ‘n enige en enkelvoudige geestelike Wese is wat ons God noem². Hy is ewig³, onbegryplik⁴, onsienlik⁵, onveranderlik⁶, oneindig⁷, almagtig⁸, volkome wys⁹, regverdig¹⁰, goed¹¹ en die alleroorvloedigste fontein van alles wat goed is¹².
1: Romeine 10:10
2: Deuteronomium 6:4; Jesaja 44:6; Johannes 4:24; Romeine 1:20-21; Efesiërs 4:6; 1 Korintiërs 8:4, 6; 2 Korintiërs 3:17; 1 Timoteus 2:5
3: Psalm 90:2; Jesaja 40:28
4: Romeine 11:33
5: Kolossense 1:15; 1 Timoteus 1:17; 1 Timoteus 6:16
6: Maleagi 3:6; Jakobus 1:17
7: 1 Konings 8:27; Jeremia 23:24
8: Genesis 17:1; Matteus 19:26; Openbaring 1:8
9: Romeine 16:27
10: Jeremia 12:1; Romeine 3:25-26; Romeine 9:14; Openbaring 16:5; Openbaring 16:7
11: Matteus 19:17
12: 1 Kronieke 29:10-12; Jesaja 40:14; Jakobus 1:17
Artikel 2: Die Middele Waardeur Ons God Ken
Ons ken Hom deur twee middele:
Ten eerste deur middel van die skepping, onderhouding en regering van die hele wêreld. Dit is immers voor ons oë soos ‘n mooi boek¹ waarin alle skepsels, groot en klein, die letters is wat ons die onsigbare dinge van God, naamlik sy ewige krag en goddelikheid, duidelik laat sien, soos die apostel Paulus sê (Romeine 1:20). Al die dinge is genoegsaam om die mense te oortuig en hulle alle verontskuldiging te ontneem².
Ten tweede maak Hy Hom deur sy heilige en Goddelike Woord nog duideliker en meer volkome aan ons bekend³ en wel so veel as wat vir ons in hierdie lewe nodig is om tot sy eer en tot die saligheid van hulle wat aan Hom behoort⁴.
1: Psalm 19:2-5
2: Romeine 1:20; Efesiërs 4:6
3: Psalm 19:8-9; 1 Korintiërs 1:18-21
4: Deuteronomium 6:4; 1 Korintiërs 12:6; 1 Timoteus 2:5
Artikel 3: Die Geskrewe Woord van God
Ons bely dat hierdie Woord van God nie deur die wil van ‘n mens gestuur of voortgebring is nie, maar die heilige mense van God het dit, deur die Heilige Gees gedrywe, gespreek, soos die heilige Petrus sê¹.
Daarna het God deur sy besondere sorg vir ons en ons saligheid sy knegte (profete en apostels) beveel om sy geopenbaarde Woord op skrif te stel² en Hy self het met sy vinger die twee tafels van die wet geskrywe³.
Daarom noem ons sulke geskrifte die heilige en Goddelike Skrif⁴.
1: 2 Petrus 1:21
2: Eksodus 24:4; Eksodus 34:27; Psalm 102:19; Habakuk 2:2; Openbaring 1:11; Openbaring 1:19
3: Eksodus 31:18
4: 2 Timoteus 3:16
Artikel 4: Die Kanonieke Boeke van die Heilige Skrif
Ons vat die Heilige Skrif in twee dele saam: die Ou en die Nuwe Testament. Dit is die kanonieke boeke waarteen niks ingebring kan word nie. Hulle getal in die kerk van God is soos volg:
- Die boeke van die Ou Testament:
- Die vyf boeke van Moses: Genesis, Eksodus, Levitikus, Numeri en Deuteronomium
- Josua, Rigters, Rut
- 1 en 2 Samuel, 1 en 2 Konings, 1 en 2 Kronieke (genoem Paralipomenon)
- Esra, Nehemia, Ester, Job
- Die Psalms van Dawid
- Drie boeke van Salomo: Spreuke, Prediker en Hooglied
- Die vier groot profete: Jesaja, Jeremia, Esegiël en Daniël
- Die twaalf klein profete: Hosea, Joël, Amos, Obadja, Jona, Miga, Nahum, Habakuk, Sefanja, Haggai, Sagaria en Maleagi
- Die boeke van die Nuwe Testament:
- Vier evangeliste: Matteus, Markus, Lukas en Johannes
- Die Handelinge van die Apostels
- Die veertien briewe van die apostel Paulus: aan die Romeine, twee aan die Korintiërs, aan die Galasiërs, die Efesiërs, die Filippense, die Kolossense, twee aan die Tessalonisense, twee aan Timoteus, aan Titus, Filemon en die Hebreërs
- Die sewe briewe van die ander apostels: die brief van Jakobus, twee van Petrus, drie van Johannes en die brief van Judas
- Die Openbaring van die apostel Johannes
Artikel 5: Die Gesag van die Heilige Skrif
Ons aanvaar¹ al hierdie boeke en hulle alleen, as heilig en kanoniek om ons geloof daarna te rig, daarop te grondves en daarmee te bevestig².
Ons glo ook sonder twyfel alles wat daarin vervat is, nie juis omdat die kerk hulle aanvaar en as sodanig beskou nie, maar veral omdat die Heilige Gees in ons hart getuig dat hulle van God is³.
Hulle het ook die bewys daarvan in hulleself, aangesien selfs die blindes kan tas dat die dinge wat daarin voorspel is, plaasvind⁴.
1: 1 Tessalonisense 2:13
2: 2 Timoteus 3:16-17
3: 1 Korintiërs 12:3; 1 Johannes 4:6; 1 Johannes 5:6-7
4: Deuteronomium 18:21-22; 1 Konings 22:28; Jeremia 28:9; Esegiël 33:33
Artikel 6: Onderskeid Tussen die Kanonieke en Apokriewe Boeke
Ons onderskei hierdie heilige boeke van die apokriewe boeke:
- Die derde en vierde boek van Esra, die boek van Tobias, Judit, die Wysheid, Jesus Sirag, Barug, die byvoegsel by die geskiedenis van Ester, die Gebed van die drie manne in die vuur, die Geskiedenis van Susanna, die Beeld van Bel en die Draak, die Gebed van Menasse en die twee boeke van die Makkabeërs.
Die kerk mag hierdie boeke wel lees en daaruit lering trek vir sover hulle met die kanonieke boeke ooreenstem. Hulle het egter geensins sodanige krag of gesag dat iemand deur hulle getuienis enigiets van die geloof of van die Christelike godsdiens sou kan bevestig nie. Hulle mag nie in die minste aan die gesag van ander, die heilige boeke, afbreuk doen nie.
Artikel 7: Die Volkomenheid van die Heilige Skrif
Ons glo dat hierdie Heilige Skrif die wil van God volkome bevat en dat alles wat die mens vir sy saligheid moet glo, daarin voldoende geleer word¹.
Aangesien die hele wyse waarop God deur ons gedien moet word, daarin breedvoerig beskrywe word, mag ook niemand, selfs nie die apostels nie, anders leer as wat ons reeds deur die Heilige Skrif geleer word nie² — ja, al was daar ook ‘n engel uit die hemel, soos die apostel Paulus sê (Galasiërs 1:8). En aangesien dit verbode is om iets by die Woord van God by te voeg of daarvan weg te laat (Deuteronomium 12:32)³, blyk dit duidelik dat die leer daarvan heeltemal volmaak en in alle opsigte volkome is⁴.
Ons mag ook geen geskrifte van mense, hoe heilig die mense ook al was, met die Goddelike Skrif gelykstel nie; ook mag ons nie die gewoonte of die groot getalle of oudheid of opvolging van tye of van persone of kerkvergaderings, verordeninge of besluite met dié waarheid van God gelykstel nie, want die waarheid is bo alles⁵.
Alle mense is immers uit hulleself leuenaars en nietiger as die nietigheid self (Psalm 62:10)⁶.
Ons verwerp daarom met ons hele hart alles wat nie met hierdie onfeilbare reël ooreenkom nie, soos die apostels ons leer as hulle sê: “…maar stel die geeste op die proef of hulle uit God is” (1 Johannes 4:1) en: “As iemand na julle kom en hierdie leer nie bring nie, ontvang hom nie in die huis nie…” (2 Johannes 10)⁷.
1: Spreuke 30:6; Johannes 4:25; 2 Timoteus 3:16-17; 1 Petrus 1:10-12
2: Romeine 15:4; 1 Timoteus 1:3; 1 Korintiërs 15:2-3; 2 Timoteus 3:14-15; 1 Petrus 4:11
3: Deuteronomium 4:2; Deuteronomium 12:32; Spreuke 30:6; Handelinge 26:22; 1 Korintiërs 4:6; Galasiërs 1:8; Openbaring 22:18-19
4: Psalm 19:8-9; Matteus 17:5; Johannes 15:15; Handelinge 18:28; Handelinge 20:27; Romeine 15:4; 1 Korintiërs 2:4
5: Jesaja 1:12; Matteus 15:3; Markus 7:7-9; Handelinge 4:19; Romeine 3:4; Kolossense 2:8; 2 Timoteus 4:3-4; 1 Johannes 2:19
6: Deuteronomium 4:5-6; Psalm 62:10; Jesaja 8:20; 1 Korintiërs 3:11; Efesiërs 4:4-6; 2 Tessalonisense 2:2; 2 Timoteus 3:14-15
7: 1 Johannes 4:1; 2 Johannes 10
Artikel 8: God is Een Wese en Onderskeie in Drie Persone
Ons glo volgens hierdie waarheid en hierdie Woord van God in ’n enige God¹, een enige wese, in wie drie Persone is, naamlik die Vader en die Seun en die Heilige Gees, wat in werklikheid en in waarheid en van ewigheid af onderskeie is volgens die eienskappe wat Hulle nie met mekaar deel nie².
Die Vader is die oorsaak, oorsprong en begin van alle sigbare en onsigbare dinge³.
Die Seun is die Woord, die Wysheid en die Beeld van die Vader⁴.
Die Heilige Gees is die ewige Krag en Mag wat van die Vader en die Seun uitgaan⁵.
Nogtans volg uit hierdie onderskeiding nie dat God in drie gedeel is nie, aangesien die Heilige Skrif ons leer dat die Vader en die Seun en die Heilige Gees elkeen sy eie selfstandigheid het, deur sy eienskappe op so ’n wyse onderskei dat hierdie drie Persone slegs een enige God is. Dit is dus duidelik dat die Vader nie die Seun en die Seun nie die Vader is nie; eweneens dat die Heilige Gees nie die Vader en ook nie die Seun is nie. Nogtans is hierdie Persone, wat so onderskeie is, nie gedeel nie en ook nie onderling vermeng nie. Want die Vader en die Heilige Gees het nie vlees aangeneem nie, maar slegs die Seun. Die Vader was nooit sonder sy Seun⁶ of sy Heilige Gees nie, want al drie is van gelyke ewigheid af in een en dieselfde wese. Daar is nie ’n eerste of ’n laaste nie, want al drie is een in waarheid, mag, goedheid en barmhartigheid.
1: Jesaja 43:10; 1 Korintiërs 8:4-6
2: Matteus 3:16-17; Matteus 28:19; Galasiërs 4:6; 1 Johannes 5:6-7
3: Efesiërs 3:14-16
4: Spreuke 8:22-31; Johannes 1:14; Johannes 1:18; Johannes 5:17-26; 1 Korintiërs 1:24; Filippense 2:6-8; Kolossense 1:15-20; Hebreërs 1:3; Openbaring 19:13
5: Johannes 15:26
6: Miga 5:2; Johannes 1:1-2
Artikel 9: Skrifgetuienis Oor die Leer van die Drie-Eenheid
Ons weet dit alles sowel uit die getuienisse van die Heilige Skrif¹ as uit hulle werkinge, veral uit werkinge wat ons in onsself voel. Die getuienisse van die Heilige Skrif wat ons leer om in hierdie heilige Drie-eenheid te glo, staan op baie plekke in die Ou Testament en dit is nie nodig om hulle almal op te noem nie.
Ons kan hulle onderskeidend en oordeelkundig uitkies:
- Genesis 1:26-27: En God het gesê: Laat Ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis… En God het die mens geskape na sy beeld; man en vrou het Hy hulle geskape.
- Genesis 3:22: Toe sê die Here God: Nou het die mens geword soos een van Ons.
Wanneer God sê: Laat Ons mense maak na Ons beeld, blyk daaruit dat daar meer as een Persoon in die Godheid is. En as Hy sê: God het geskep, wys Hy die eenheid van die Godheid aan. Weliswaar sê hy nie hoeveel Persone daar is nie, maar wat vir ons in die Ou Testament enigsins duister is, is in die Nuwe Testament baie duidelik. Want toe die Here in die Jordaan gedoop is, is die stem van die Vader gehoor, wat sê: Dit is my geliefde Seun (Matteus 3:17). Die Seun is in die water gesien en die Heilige Gees het Hom in die vorm van ’n duif geopenbaar².
Buitendien is vir die doop van alle gelowiges hierdie formule deur Christus vasgestel: Doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees (Matteus 28:19). In die Evangelie van Lukas sê die engel Gabriël aan Maria, die moeder van die Here: Die Heilige Gees sal oor jou kom en die krag van die Allerhoogste sal jou oorskadu. Daarom ook sal die Heilige wat gebore word, Seun van God genoem word (Lukas 1:35); eweneens: Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees sy met julle almal (2 Korintiërs 13:13) en: Want daar is drie wat getuig in die hemel: die Vader, die Woord en die Heilige Gees en hierdie drie is een; en daar is drie wat getuig op die aarde: die Gees en die water en die bloed en die drie is eenstemmig (1 Johannes 5:7-8)³.
Ons word op al hierdie plekke baie duidelik geleer dat daar drie persone in een enige Goddelike Wese is. Al gaan hierdie leer die menslike verstand ver te bowe, glo ons dit nou tog deur die Woord, terwyl ons verwag om die volle kennis en vrug daarvan in die hemel te geniet.
Verder moet ons ook let op die besondere ampte en op die eie werkinge van die drie Persone met betrekking tot ons: Die Vader word ons Skepper deur sy krag genoem; die Seun is ons Saligmaker en Verlosser deur sy bloed; die Heilige Gees is ons Heiligmaker deur sy inwoning in ons hart.
Die leer van die heilige Drie-eenheid is in die ware kerk van die tyd van die apostels af tot nou toe altyd onderhou en gehandhaaf teenoor die Jode, Mohammedane en sommige valse christene en ketters soos Marcion, Mani, Praxeas, Sabellius, Samosatenus, Arius en dergelike, wat tereg deur die regsinnige vaders veroordeel is.
Daarom aanvaar ons in hierdie opsig graag die drie belydenisse, naamlik dié van die Apostels, Nicéa en Atanasius en ook wat die ou vaders in ooreenstemming hiermee besluit het.
1: Johannes 14:16; Johannes 15:26; Handelinge 2:32-33; Romeine 8:9; Galasiërs 4:6; Titus 3:4-6; 1 Petrus 1:2; 1 Johannes 4:13-14; 1 Johannes 5:5-12; Judas 20-21; Openbaring 1:4-5
2: Genesis 1:26-27; Genesis 3:22; Psalm 45:8; Jesaja 61:1; Matteus 3:16-17
3: Matteus 28:19; Lukas 1:35; 1 Korintiërs 6:17; 2 Korintiërs 13:13; 1 Johannes 5:7-8
Artikel 10: Die Godheid van Jesus Christus
Ons glo dat Jesus Christus ten opsigte van sy Goddelike natuur die eniggebore Seun van God is¹.
Hy is van ewigheid af gebore; Hy is nie gemaak nie en nie geskep nie, want dan sou Hy ’n skepsel wees; Hy is een wese met die Vader, ewig saam met Hom, die ewebeeld van die Persoon van die Vader, ewig saam met Hom, die heerlikheid (Hebreërs 1:3) en in alles aan Hom gelyk (Filippense 2:6)².
Hy is van ewigheid die Seun van God en nie slegs sedert Hy ons natuur aangeneem het nie; so leer die volgende getuienisse ons as hulle met mekaar vergelyk word. Moses sê dat God die wêreld geskep het³ en die heilige Johannes sê dat alle dinge ontstaan het deur die Woord, wat hy God noem (Genesis 1:1 en Johannes 1:3)⁴.
Die apostel sê dat God die wêreld deur sy Seun gemaak het⁵ en ook dat God alle dinge deur Jesus Christus geskep het (Hebreërs 1:2 en Kolossense 1:16)⁶.
So moet Hy wat God, die Woord, die Seun en Jesus Christus genoem word, dus reeds bestaan het toe alles deur Hom geskep is. En daarom sê die profeet Miga: Sy uitgange is uit die voortyd, uit die dae van die ewigheid (Miga 5:1) en sê die apostel: Hy is sonder begin van dae of lewenseinde (Hebreërs 7:3). Hy is dus ware, ewige God, die Almagtige, wat ons aanroep, aanbid en dien⁷.
1: Matteus 17:5; Johannes 1:14; Johannes 1:18; Johannes 3:16; Johannes 20:17; Johannes 20:31; Romeine 1:4; Galasiërs 4:4; Hebreërs 1:1; 1 Johannes 5:5-12
2: Johannes 5:18; Johannes 5:23; Johannes 10:30; Johannes 14:9; Johannes 20:28; Romeine 9:5; Filippense 2:6-8; Kolossense 1:15; Titus 2:13; Hebreërs 1:3; Openbaring 5:13
3: Johannes 8:58; Johannes 17:5; Hebreërs 13:8
4: Genesis 1:1; Johannes 1:3
5: Johannes 1:1-3
6: Kolossense 1:16; Hebreërs 1:2
7: Miga 5:1; 1 Korintiërs 8:6; Hebreërs 7:3
Artikel 11: Die Godheid van die Heilige Gees
Ons glo en bely ook dat die Heilige Gees van ewigheid van die Vader en die Seun uitgaan; dat Hy nie gemaak of geskep of gebore is nie maar van albei slegs uitgaan¹; dat Hy in orde die derde Persoon van die Drie-eenheid is; dat Hy van een en dieselfde wese, majesteit en heerlikheid as die Vader en die Seun is; dat Hy inderdaad ware en ewige God is, soos die Heilige Skrif ons leer².
1: Psalm 33:6; Jesaja 48:16; Jesaja 61:1; Johannes 14:16-17; Johannes 14:25-26; Johannes 15:26; Romeine 8:9; Galasiërs 4:6
2: Genesis 1:2; Psalm 139:7; Matteus 28:19; Handelinge 5:3-4; 1 Korintiërs 2:10-14; 1 Korintiërs 3:16; 1 Korintiërs 6:11; 1 Korintiërs 6:19; 1 Johannes 5:6
Artikel 12: Die Skepping van Alle Dinge, Veral van die Engele
Ons glo dat die Vader, toe Hy dit goedgedink het, deur sy Woord, dit wil sê deur sy Seun, die hemel en die aarde en alle skepsels uit niks geskep het¹.
Hy het aan elke skepsel ’n eie wese, gestalte en voorkoms en onderskeie take gegee om sy skepper te dien. Hy onderhou en regeer hulle almal nou nog deur sy ewige voorsienigheid en oneindige krag om die mens te dien, sodat die mens sy God kan dien; en Hy het ook die engele goed geskep om sy boodskappers te wees en sy uitverkorenes te dien².
Sommige van die engele het uit die verhewenheid waarin God hulle geskep het, in die ewige verderf verval³, maar die ander het deur die genade van God in hulle toestand volhard en staande gebly. Die duiwels en bose geeste het só ontaard dat hulle vyande van God sowel as van alles wat goed is⁴.
Soos moordenaars loer hulle op die kerk — ook op elke lidmaat — om dit met alle mag in die verderf te stort en om alles deur hulle bedrieëry te verwoes⁵.
Daarom staan hulle deur hulle eie boosheid veroordeel tot die ewige verdoemenis en verwag hulle daagliks hulle verskriklike pyniging⁶.
Daarom verfoei ons ook die dwaling van die Saduseërs, wat ontken dat daar geeste en engele is⁷; ook verwerp ons die dwaling van die Manigeërs, wat sê dat die duiwels hulle oorsprong uit hulleself het en reeds van nature sleg is en nie sleg geword het nie.
1: Genesis 1:1; Genesis 2:3; Jesaja 40:26; Jeremia 32:17; Johannes 1:3; 1 Korintiërs 8:6; Kolossense 1:15-16; 1 Timoteus 4:3; Hebreërs 11:3; Openbaring 4:11
2: Genesis 1:29-30; Psalm 34:8; Psalm 103:20-21; Matteus 4:11; Handelinge 17:25; 1 Korintiërs 6:20; Hebreërs 1:14
3: Johannes 8:44; 2 Petrus 2:4; Judas 6
4: Genesis 3:1-5; Lukas 8:30-31; 1 Petrus 5:8
5: 2 Korintiërs 2:10-11; 2 Korintiërs 11:3; 2 Korintiërs 11:14; Efesiërs 6:12; Openbaring 12:4; Openbaring 12:13-17; Openbaring 20:7-9
6: Matteus 8:29; Matteus 25:41; Lukas 8:31; Openbaring 20:10
7: Handelinge 23:8
Artikel 13: Die Voorsienigheid van God
Ons glo dat die goeie God, nadat Hy alle dinge geskep het, dit nie laat vaar of aan die toeval of geluk oorgegee het nie¹ maar dit volgens sy heilige wil so bestuur en regeer dat in hierdie wêreld niks sonder sy beskikking gebeur nie².
Tog is God nie die bewerker van die sondes wat gedoen word nie en Hy dra ook nie die skuld daarvoor nie³.
Sy mag en goedheid is immers so groot en onbegryplik dat Hy sy werk baie goed en regverdig beskik en uitvoer, selfs al handel die duiwels en goddelose mense onregverdig⁴.
Ons wil ook nie verder as wat ons kan verstaan, nuuskierig ondersoek instel na dié dinge wat Hy bo die vermoë van die menslike verstand doen nie; inteendeel, ons eerbiedig juis in alle nederigheid en in aanbidding die regverdige oordele van God wat vir ons verborge is⁵.
Ons is tevrede daarmee dat ons leerlinge van Christus is om slegs te leer ken wat Hy aan ons in sy Woord openbaar, sonder om die grense daarvan te oorskry⁶.
Hierdie leer bied onuitspreeklike troos as ons daardeur geleer word dat niks per toeval oor ons kan kom nie maar alles deur die beskikking van ons goeie hemelse Vader oor ons kom. Hy waak oor ons met vaderlike sorg en heers so oor alle skepsels dat sonder die wil van ons Vader nie een haar van ons kop — hulle is almal getel — en ook nie een mossie op die aarde sal val nie (Matteus 10:29-30).
Ons verlaat ons hierop, omdat ons weet dat Hy die duiwels en al ons vyande in toom hou, sodat hulle ons sonder sy toelating en wil geen skade kan aandoen nie⁷.
Daarom verwerp ons ook die gruwelike dwaling van die Epikureërs, wat sê dat God Hom met niks bemoei nie en alle dinge aan die toeval oorlaat.
1: Johannes 5:17; Hebreërs 1:3
2: Psalm 115:3; Spreuke 16:1; Spreuke 16:9; Spreuke 16:33; Spreuke 21:1; Klaagliedere 3:37-38; Efesiërs 1:11-12; Jakobus 4:13-15
3: Jakobus 1:13; 1 Johannes 2:16
4: Job 1:21; Jesaja 10:5-7; Jesaja 45:7; Amos 3:6; Handelinge 2:23; Handelinge 4:27-28
5: Genesis 45:8; 2 Samuel 16:10; 1 Konings 22:19-23; Psalm 75:7-8; Spreuke 16:4; Esegiël 14:9; Romeine 1:28; Romeine 11:33-34; 2 Tessalonisense 2:11
6: Deuteronomium 29:29; 1 Korintiërs 4:6
7: Genesis 45:8; Genesis 50:20; 2 Samuel 16:10; Job 1:12; Job 2:6; Matteus 10:29-30; Romeine 8:28; Romeine 8:38-39
Artikel 14: Die Skepping van die Mens, die Sondeval en die Gevolge Daarvan
Ons glo dat God die mens uit die stof van die aarde geskep het¹; Hy het hom volgens sy beeld en gelykenis gemaak en gevorm, dit wil sê goed, regverdig en heilig², sodat hy met sy wil in alles met die wil van God ooreenstem. Maar toe hy in aansien was, het hy dit nie verstaan nie en sy uitnemendheid nie besef nie. Hy het homself egter, deur na die woord van die duiwel te luister, willens en wetens aan die sonde en daarmee aan die dood en die vervloeking onderwerp³.
Hy het immers die gebod van die lewe wat hy ontvang het, oortree en homself deur die sonde losgeskeur van God, wat sy ware lewe was; so het hy sy hele natuur verderf en daarmee die liggaamlike en geestelike dood verdien⁴.
Hy het deurdat hy in al sy doen en late goddeloos, verkeerd en verdorwe geword het, al sy voortreflike gawes wat hy van God ontvang het, verloor⁵ en hy het niks anders daarvan oorgehou nie as slegs klein oorblyfsels, wat egter genoegsaam is om hom van alle verontskuldiging te ontneem⁶.
Al die lig wat ons het, het immers in duisternis verander⁷, soos die Skrif ons leer: En die lig skyn in die duisternis en die duisternis het dit nie oorweldig nie, waar die heilige Johannes die mense duisternis noem⁸.
Daarom verwerp ons alles wat in stryd hiermee oor die vrye wil van die mens geleer word, aangesien die mens niks anders as ’n slaaf van die sonde is nie en: ’n Mens kan niks aanneem as dit hom nie uit die hemel gegee is nie⁹.
Want wie is daar wat daarop sal roem dat hy uit homself iets goeds kan doen, terwyl Christus sê: Niemand kan na My toe kom as die Vader wat My gestuur het, hom nie trek nie?¹⁰
Wie sal op sy eie wil roem as hy verstaan dat …wat die vlees bedink, vyandskap teen God is?¹¹
Wie sal op sy eie kennis roem as die natuurlike mens die dinge van die Gees van God nie aanneem nie?¹²
Kortom: Wie sal ook maar op ’n enkele gedagte roem as hy verstaan dat ons uit onsself nie bekwaam is om iets uit onsself te bedink nie maar dat ons bekwaamheid uit God is?¹³
Daarom is dit reg dat wat die apostel sê, onwrikbaar bly, want dit is God wat in julle werk. Hy maak julle gewillig en bekwaam om sy heilige plan uit te voer¹⁴.
Want daar is geen verstand en geen wil in ooreenstemming met die verstand en die wil van God as Christus dit nie in die mens tot stand bring nie. Dit leer Hy ons as Hy sê: Sonder My kan julle niks doen nie¹⁵.
1: Genesis 2:7; Genesis 3:19; Prediker 12:7
2: Genesis 1:26-27; Genesis 1:31; Efesiërs 4:24; Kolossense 3:10
3: Genesis 3:16-19; Prediker 7:29; Romeine 5:12
4: Genesis 2:17; Jesaja 59:2; Efesiërs 2:1; Efesiërs 4:17-19
5: Psalm 49:21; Psalm 94:11; Romeine 3:10; Romeine 8:6
6: Romeine 1:20-21
7: Efesiërs 5:8
8: Johannes 1:5
9: Jesaja 26:12; Johannes 3:27
10: Johannes 6:44
11: Romeine 7:5; Romeine 8:7
12: 1 Korintiërs 3:5
13: 2 Korintiërs 3:5
14: Filippense 2:13
15: Johannes 15:5
Artikel 15: Die Erfsonde
Ons glo dat die erfsonde deur die ongehoorsaamheid van Adam oor die hele menslike geslag uitgebrei het¹.
Dit is ’n verdorwenheid van die hele natuur² en ’n oorgeërfde gebrek waarmee selfs die klein kindertjies in die moederskoot besmet is³.
Dit is hierdie wortel wat in die mens allerhande sonde laat uitspruit. Dit is daarom so afskuwelik en gruwelik voor God dat dit rede genoeg is om die menslike geslag te verdoem⁴.
Dit word selfs nie deur die doop geheel en al tot niet gemaak of volkome uitgeroei nie, aangesien die sonde aanhoudend uit hierdie verdorwenheid opborrel soos water uit ’n giftige fontein⁵.
Dit word die kinders van God ewenwel nie tot verdoemenis toegereken nie maar deur sy genade en barmhartigheid vergewe⁶.
God vergewe nie sodat die gelowiges in die sonde gerus sou slaap nie maar wel sodat die besef van hierdie verdorwenheid hulle dikwels sou laat sug in die verlange om van hierdie liggaam van die dood verlos te word⁷.
Ons verwerp hiermee die dwaling van die Pelagiane, wat sê dat hierdie sonde uit niks anders as uit navolging ontstaan nie.
1: Romeine 5:12-14; Romeine 5:19
2: Romeine 3:10
3: Job 14:4; Psalm 51:7; Johannes 3:6
4: Efesiërs 2:3
5: Romeine 7:8-13; Romeine 7:17-18; Romeine 7:20-24
6: Efesiërs 2:3-5
7: Romeine 7:24
Artikel 16: Die Ewige Verkiesing van God
Ons glo dat God, toe die hele geslag van Adam deur die sonde van die eerste mens in die verderf en ondergang gestort is¹, Hom betoon het soos Hy is, naamlik barmhartig en regverdig. God is barmhartig, aangesien Hy dié wat Hy uitverkies het, uit hierdie verderf trek en verlos²; God het hulle, uit louter goedheid en sonder om hulle werke in die minste in aanmerking te neem³, in sy ewige en onveranderlike raad⁴ uitverkies in Jesus Christus, ons Here⁵.
God is regverdig deurdat Hy die ander in hulle val en verderf laat bly waarin hulle hulleself gewerp het⁶.
1: Romeine 3:12
2: 1 Samuel 12:22; Psalm 65:5; Handelinge 2:47; Handelinge 13:48; Romeine 9:15-16; Romeine 11:5-6; Titus 1:1; 1 Petrus 1:2; 1 Johannes 4:10
3: Maleagi 1:2-3; Romeine 9:11-13; Efesiërs 2:8-10; 2 Timoteus 1:9; Titus 3:4-5
4: Johannes 6:37; Johannes 6:44; Johannes 10:29; Johannes 17:2; Johannes 17:9; Johannes 17:12
5: Johannes 6:27; Johannes 15:16; Johannes 15:19; Romeine 8:29; Efesiërs 1:4-5
6: Romeine 9:17-22; 1 Petrus 2:7-8
Artikel 17: Die Verlosser Deur God Beloof
Ons glo dat ons goeie God in sy uitnemende wysheid en goedheid die mens weer opgesoek het toe Hy gesien het dat die mens homself in die liggaamlike en geestelike dood gewerp en geheel en al ellendig gemaak en al bewende van Hom weggevlug het¹.
God het die mens toe getroos met die belofte om aan hom sy Seun te gee en hom salig te maak — sy Seun, wat uit ’n vrou gebore sou word om die kop van die slang te vermorsel².
1: Genesis 3:8-9; Genesis 3:19
2: Genesis 3:15; Genesis 22:18; Jesaja 7:14; Johannes 1:14; Johannes 5:46; Johannes 7:42; Handelinge 13:32-33; Romeine 1:2-3; Galasiërs 3:16; Galasiërs 4:4; 2 Timoteus 2:8; Hebreërs 7:14
Artikel 18: Die Menswording van Jesus Christus
Ons bely dat God die belofte aan die vaders deur die mond van die heilige profete¹ inderdaad vervul het deur sy Seun in die wêreld te stuur op die tyd deur Hom bepaal².
Hy het die gestalte van ’n dienskneg aangeneem en aan die mens gelyk geword deur werklik ’n egte menslike natuur, met al sy swakhede³ maar sonder sonde, aan te neem⁴.
Hy is in die liggaam van die geseënde maagd Maria deur die krag van die Heilige Gees en sonder die toedoen van ’n man verwek⁵.
Hy het nie alleen wat die liggaam betref, die menslike natuur aangeneem nie, maar ook ’n egte menslike siel om so ’n werklike mens te wees. Want Hy moes sowel die siel as die liggaam aanneem om altwee te red, aangesien albei verlore was⁶.
Teenoor die kettery van die Wederdopers, wat ontken dat Christus die menslike vlees uit sy moeder aangeneem het, bely ons daarom dat Christus die vlees en die bloed van die kinders deelagtig geword het⁷, dat Hy, wat die vlees betref, ’n nakomeling van Dawid is, as mens gebore is uit die geslag van Dawid⁸, ’n vrug van die moederskoot van Maria⁹, gebore uit ’n vrou¹⁰, ’n spruit van Dawid¹¹, ’n loot uit die wortels van Isai¹², van die geslag van Juda afstam¹³, uit die Jode as mens gebore¹⁴, uit die geslag van Abraham, aangesien Hy die geslag van Abraham aangeneem het in alle opsigte — maar sonder sonde, aan sy broers gelyk geword het¹⁵.
Ons bely inderdaad dat Hy waarlik ons Immanuel is, dit wil sê: God met ons¹⁶.
1: Genesis 26:4; 2 Samuel 7:12-16; Psalm 132:11; Lukas 1:55; Handelinge 13:23
2: Galasiërs 4:4
3: Matteus 26:38; Johannes 12:27; Filippense 2:7; 1 Timoteus 2:5; 1 Timoteus 3:16; Hebreërs 2:14
4: 2 Korintiërs 5:21; Hebreërs 7:26; 1 Petrus 2:22
5: Matteus 1:18; Lukas 1:35
6: Lukas 1:34-35
7: Hebreërs 2:14
8: Psalm 132:11; Handelinge 2:30; Romeine 1:3
9: Lukas 1:42
10: Lukas 1:31; Galasiërs 4:4
11: Jeremia 33:15
12: Jesaja 11:1
13: Hebreërs 7:14
14: Romeine 9:5
15: Hebreërs 2:16-17; Hebreërs 4:15
16: Jesaja 7:14; Matteus 1:23
Artikel 19: Die Twee Nature van Christus
Ons glo dat deur hierdie ontvangenis die Persoon van die Seun onafskeidelik met die menslike natuur verenig en verbind is¹; dat daar dus nie twee Seuns van God of twee persone is nie maar twee nature in een Persoon verenig, terwyl elke natuur nogtans sy onderskeie eienskappe behou. Net soos die Goddelike natuur altyd ongeskape gebly het, sonder begin van dae of lewenseinde (Hebreërs 7:3) en die hemel en aarde vervul², só het ook die menslike natuur sy eienskappe nie verloor nie; dit het skepsel gebly, wat wel ’n begin van dae het, eindig van natuur is en alles behou wat by ’n ware liggaam behoort.
Hoewel Hy daaraan deur sy opstanding onsterflikheid gegee het, het Hy die egtheid van sy menslike natuur nie verander nie³, omdat ons saligheid en ons opstanding ook van die egtheid van sy liggaam afhanklik is⁴.
Hierdie twee nature is só saam in een persoon verenig dat hulle selfs deur sy dood nie van mekaar geskei was nie. Dit wat Hy by sy sterwe in die hande van sy Vader oorgegee het, was dus ’n ware menslike gees wat uit sy liggaam uitgegaan het⁵.
Die Goddelike natuur het in die tussentyd steeds met die menslike natuur verenig gebly, ook toe Hy in die graf gelê het⁶.
Die Godheid het nie opgehou om in Hom te wees nie; dit was in Hom toe Hy ’n klein kindjie was, al het die Godheid Hom toe ’n klein tydjie nie geopenbaar nie. Ons bely daarom dat Hy ware God en ware mens is: ware God om deur sy krag die dood te oorwin, maar ook ware mens om deur die swakheid van sy vlees vir ons te kon sterwe.
1: Johannes 1:14; Johannes 10:30; Romeine 9:5; Filippense 2:6-8
2: Matteus 28:20; Hebreërs 7:3
3: Matteus 26:11; Lukas 24:39; Johannes 20:25; Handelinge 1:3; Handelinge 1:11; Hebreërs 2:9
4: 1 Korintiërs 15:13; 1 Korintiërs 15:21; Filippense 3:21
5: Matteus 27:50; Lukas 23:46
6: Romeine 1:4
Artikel 20: God se Regverdigheid en Barmhartigheid in Christus
Ons glo dat God, wat volkome barmhartig en regverdig is, sy Seun gestuur het om die natuur waarin die ongehoorsaamheid begaan is, aan te neem¹.
Hy moes in die menslike natuur aan die geregtigheid voldoen en die straf vir die sondes deur die allerbitterste lyding en sterwe dra².
So het God sy regverdigheid teenoor sy Seun betoon toe Hy ons sondelas op Hom gelê het en só sy goedheid en barmhartigheid uitgestort oor ons, wat skuldig was en die ewige vervloeking verdien het. Hy het immers sy Seun deur die mees volmaakte liefde vir ons in die dood gegee en Hy het Hom tot ons regverdiging opgewek³, sodat ons deur Hom die onsterflikheid en die ewige lewe kan hê⁴.
1: Romeine 8:3
2: Jesaja 53:6; Johannes 1:29; Hebreërs 2:14
3: Romeine 3:25-26; Romeine 8:32; 1 Johannes 4:9
4: Romeine 4:25
Artikel 21: Die Versoening Deur Christus
Ons glo dat Jesus Christus — kragtens ’n eed — ’n ewige Hoëpriester is volgens die orde van Melgisedek¹.
Hy het Homself in ons naam voor sy Vader gestel om sy toorn met volledige betaling te stil² deur Homself aan die kruishout te offer en sy kosbare bloed tot afwassing van ons sondes uit te stort³ soos die profete dit voorspel het⁴.
Daar staan geskrywe dat die straf wat vir ons die vrede aanbring, op die Seun van God was en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom⁵; dat Hy soos ’n lam na die slagpale gelei en by die misdadigers gereken is⁶; dat Hy as ’n misdadiger deur Pontius Pilatus veroordeel is al het dié Hom eers onskuldig verklaar⁷.
Hy het teruggegee wat Hy nie geroof het nie⁸; Hy het na liggaam en siel⁹ as regverdige vir die onregverdiges gely¹⁰; Hy het die verskriklike straf wat ons sondes verdien, ervaar, sodat sy sweet soos bloeddruppels geword het wat op die grond val¹¹ en Hy het uitgeroep: My God, my God, waarom het U my verlaat¹².
Dit alles het Hy ter wille van die vergewing van ons sondes gely. Ons sê daarom tereg saam met die apostel Paulus dat ons met julle oor niks praat nie as oor Jesus Christus en wel oor Hom as gekruisigde¹³; dat ons alles as waardeloos beskou, want om Christus Jesus, ons Here, te ken oortref alles in waarde¹⁴; dat ons volkome vertroosting in sy wonde vind en dat ons nie enige ander middel hoef te soek of uit te dink om ons met God te versoen nie as slegs hierdie offerande wat net een maal gebring is, waardeur die gelowiges vir altyd volmaak word¹⁵.
Dit is dan ook die rede waarom Hy deur die engel van die God Jesus, dit is Verlosser, genoem is, want Hy sou sy volk van hulle sondes verlos¹⁶.
1: Psalm 110:4; Hebreërs 5:10; Hebreërs 7:15-17
2: Romeine 3:24-25; Romeine 5:8-9; Romeine 8:32; Galasiërs 3:13; Kolossense 2:14; Hebreërs 2:9; Hebreërs 2:17; Hebreërs 9:11-15
3: Handelinge 2:23; Filippense 2:8; 1 Timoteus 1:15; 1 Timoteus 2:6; Hebreërs 9:22; 1 Petrus 1:18-19; 1 Johannes 1:7; Openbaring 7:14
4: Lukas 24:25-27; Romeine 3:21-22; 1 Korintiërs 15:3
5: 1 Petrus 2:24
6: Jesaja 53:5; Jesaja 53:7; Jesaja 53:9; Markus 15:28
7: Johannes 18:38; Handelinge 13:28
8: Psalm 69:5
9: Psalm 22:16
10: Romeine 5:6; 1 Petrus 3:18
11: Lukas 22:44
12: Psalm 22:2; Matteus 27:46
13: 1 Korintiërs 2:2
14: Filippense 3:8
15: Hebreërs 7:26-28; Hebreërs 9:24-28; Hebreërs 10:14
16: Matteus 1:21; Lukas 1:31; Handelinge 4:12
Artikel 22: Ons Regverdiging Deur die Geloof
Ons glo dat die Heilige Gees ’n opregte geloof in ons harte laat ontvlam¹ om die ware kennis van hierdie groot geheimenis te verkry².
Daar is dus net twee moontlikhede: In Jesus Christus is nie alles wat vir ons saligheid nodig is nie, óf dit is alles wél in Hom en dan het hy wat Jesus Christus deur die geloof besit, sy volle saligheid³.
Om nou te beweer dat Christus nie genoegsaam is nie maar dat daar buite Hom nog iets meer nodig is, sou gruwelike godslastering wees, want dit sou beteken dat Christus slegs ’n halwe Verlosser is. Ons sê daarom tereg saam met Paulus dat ons deur die geloof alleen of deur die geloof sonder die werke geregverdig is⁴.
Om presies te wees: Ons bedoel nie dat die geloof self ons regverdig maak nie⁵, want die geloof is slegs die middel waardeur ons Christus, ons Geregtigheid, omhels, maar wel dat Jesus Christus ons Geregtigheid is. Hý reken ons sy hele verdienste toe en ook al die heilige werke wat Hy vir ons en in ons plek gedoen het⁶, terwyl die geloof die middel is wat ons in die gemeenskap aan al sy weldade aan Hom verbind. En as die weldade ons eiendom geword het, is hulle meer as genoeg om vryspraak vir ons sondes te verkry.
1: Johannes 16:13-14; 1 Korintiërs 2:12; Efesiërs 1:17-18; Efesiërs 3:16-17
2: Johannes 14:6; Handelinge 4:12; Galasiërs 2:21
3: Psalm 32:1; Matteus 1:21; Lukas 1:77; Handelinge 13:38-39; Romeine 8:1
4: Romeine 3:28; Romeine 8:1; Romeine 8:33; Romeine 10:4-11; Galasiërs 2:16; Filippense 3:9
5: 1 Korintiërs 4:7
6: Jeremia 27:5; Matteus 20:28; Romeine 8:33; 1 Korintiërs 1:30-31; 2 Korintiërs 5:21; 1 Johannes 4:10; 1 Petrus 1:4-5
Artikel 23: Ons Geregtigheid Voor God
Ons glo dat ons geluksaligheid geleë is in die vergewing van ons sondes om Jesus Christus ontwil en dat ons geregtigheid voor God daarin bestaan¹.
Die leer Dawid en Paulus ons deur te verklaar dat die mens se geluksaligheid daarin bestaan dat God hom die geregtigheid buite die wetsonderhouding om toereken. Dieselfde apostel sê dat ons verniet, dit wil sê uit genade, geregverdig is deur die verlossing wat in Jesus Christus is².
Ons hou daarom hierdie grondslag altyd vas: Ons gee aan God al die eer³, verneder ons voor Hom, erken dat ons is wat ons is en roem glad nie in onsself of in ons verdienste nie⁴ maar maak staat en steun op die gehoorsaamheid van die gekruisigde Christus alleen⁵.
Hierdie gehoorsaamheid is ons eie as ons in Hom glo⁶; dit is ook genoegsaam om al ons ongeregtighede te bedek en die gewete van vrees, verbystering en skrik te bevry en om ons vrymoedigheid te gee om na God te gaan, terwyl ons nie handel soos ons eerste vader, Adam, wat al bewende probeer het om hom met vyeblare te bedek nie⁷.
Waarlik, as ons voor God moes verskyn terwyl ons, in watter geringe mate ook al, op onsself of op enige ander skepsel sou staatmaak, sou ons — helaas! — verteer moes word⁸.
En daarom moet elkeen saam met Dawid sê: En gaan nie na die gereg met u kneg nie, want niemand wat leef, is voor u aangesig regverdig nie⁹.
1: Psalm 32:1-2; Lukas 1:77; Romeine 4:6-7; Kolossense 1:13-14; 1 Johannes 2:1
2: Psalm 32:1-2; Romeine 3:24; Romeine 4:2; Romeine 4:6; 2 Korintiërs 5:18-19; Efesiërs 2:8; 1 Timoteus 2:6
3: Psalm 115:1; Openbaring 7:10-12
4: 1 Korintiërs 4:4; 1 Korintiërs 4:7; Hebreërs 11:6-7; Jakobus 2:10
5: Handelinge 4:12; Romeine 5:19; Hebreërs 10:20
6: Romeine 4:23-25; Romeine 5:1
7: Genesis 3:7; Jesaja 33:14; Sefanja 3:11; Hebreërs 4:16; Jakobus 2:10; 1 Johannes 4:17-19
8: Deuteronomium 27:26; Psalm 130:3; Lukas 16:15; Efesiërs 3:12; Filippense 3:4-9
9: Psalm 143:2
Artikel 24: Ons Heiligmaking en Goeie Werke
Ons glo dat hierdie ware geloof in die mens voortgebring word deur die hoor van die Woord van God en deur die werking van die Heilige Gees¹, dat die geloof hom wedergebore laat word en tot ’n nuwe mens maak², hom ’n nuwe lewe laat lei en hom van die verslawing van die sonde bevry³.
Daarom is daar geen sprake van dat hierdie regverdigmakende geloof die mens vir ’n vroom en heilige lewe onverskillig sou maak nie⁴; inteendeel, hy sou daarsonder nooit iets uit liefde tot God doen nie⁵, maar slegs uit liefde tot homself en uit vrees vir die verdoemenis. Dit is daarom onmoontlik dat hierdie geloof niks in die mens tot stand sou bring nie; ons praat mos nie van ’n dooie geloof nie maar van wat die Skrif noem ’n geloof wat tot dade oorgaan, wat die mens beweeg om hom voortdurend te oefen in die werke wat deur God in sy Woord beveel het.
Hierdie werke is, as hulle uit die goeie wortel van die geloof voortspruit, goed en vir God welgevallig omdat hulle almal deur sy genade geheilig is. Tog geld hierdie werke nie vir ons regverdiging nie, want ons is in die geloof geregverdig nog voordat ons goeie werke doen⁶.
Hulle sou anders mos nie goed kon wees nie, net so min as die vrug van ’n boom goed kan wees voordat die boom self goed is⁷.
Ons doen dus die goeie werke, maar nie om iets te verdien nie — wat sou ons tog kon verdien? Veeleer is ons goeie werke wat ons doen, aan God verskuldig, terwyl Hy aan ons niks verskuldig is nie, aangesien dit Hy is wat in ons werk⁸.
Hy maak ons gewillig en bekwaam om sy heilige plan uit te voer (Filippense 2:13). Laat ons daarom let op wat geskrywe staan: …wanneer julle alles gedoen het wat julle beveel is, sê dan: Ons is onverdienstelike diensknegte, want ons het gedoen wat ons verplig was om te doen (Lukas 17:10). Tog wil ons nie ontken dat God die goeie werke beloon nie⁹, maar dit is deur sy genade dat Hy sy gawes bekroon. Verder, al doen ons ook goeie werke, maak ons dit glad nie die grond van ons saligheid nie, want ons kan geen werk doen wat nie deur ons sondige natuur besmet en ook strafwaardig is nie¹⁰.
En al kon ons ook een goeie werk lewer, is die herinnering aan net een sonde vir God genoeg om dit te verwerp¹¹.
Op hierdie manier sou ons altyd in twyfel verkeer, heen en weer geslinger sonder enige sekerheid en ons arme gewete sou altyd gekwel word as dit nie op die verdienste van die lyding en sterwe van ons Verlosser steun nie¹².
1: Handelinge 16:14; Romeine 10:17; 1 Korintiërs 12:3; 1 Tessalonisense 1:4-5
2: Esegiël 36:26-27; Johannes 1:12-13; Johannes 3:5; Johannes 6:29; Handelinge 15:9; Efesiërs 2:4-6; Titus 3:5; 1 Petrus 1:23
3: Johannes 5:24; Johannes 8:36; Romeine 6:4-6; 1 Johannes 3:9
4: Galasiërs 5:22; Titus 2:12
5: Johannes 15:5; Romeine 14:23; 1 Timoteus 1:5; 2 Timoteus 1:9; Titus 3:8; Hebreërs 11:4; Hebreërs 11:6
6: Romeine 4:5; Galasiërs 5:6; 1 Tessalonisense 2:13
7: Matteus 7:17
8: Romeine 11:6; 1 Korintiërs 1:30-31; 1 Korintiërs 4:7; Efesiërs 2:10
9: Lukas 17:10; Romeine 2:5-7; 1 Korintiërs 3:14; Filippense 2:13; 2 Johannes 8; Openbaring 2:23
10: Romeine 7:20-24
11: Jakobus 2:10
12: Habakuk 2:4; Matteus 11:28; Romeine 10:11
Artikel 25: Die Seremoniële Wet in Christus Vervul
Ons glo dat die seremonies en heenwysings na die wet met die koms van Christus opgehou het en dat alle voorafskaduwing tot ’n einde gekom het¹.
Die gebruik daarvan moet derhalwe onder die Christene afgeskaf word. Die waarheid en inhoud daarvan bly nogtans vir ons in Christus Jesus bestaan: in Hom het hierdie seremonies en heenwysings juis hulle vervulling².
Ons gaan ook nog voort om die getuienisse van die wet en die profete te gebruik om ons in die evangelie te bevestig en ook om ons lewe in alle eerbaarheid tot eer van God en volgens sy wil in te rig³.
1: Matteus 27:51; Romeine 10:4; Hebreërs 9:9-10
2: Matteus 5:17; Galasiërs 3:24; Galasiërs 5:2-4; Kolossense 2:17
3: Romeine 13:8-10; Romeine 15:4; 2 Petrus 1:19; 2 Petrus 3:2; 2 Petrus 3:18
Artikel 26: Christus Ons Voorspraak
Ons glo dat ons geen ander toegang tot God het nie as net deur die enigste Middelaar¹ en Voorspraak, Jesus Christus, die Regverdige².
Hy het juis hiervoor mens geword en in Hom die Goddelike en menslike natuur verenig, sodat ons, mense, tot die Goddelike majesteit toegang kan hê³, anders sou die toegang vir ons gesluit wees. Maar hierdie Middelaar wat die Vader tussen Homself en ons aangestel het, moet ons nie deur sy verhewenheid laat terugdeins sodat ons ’n ander middelaar na ons eie insigte sou soek nie. Want daar is niemand in die hemel of op die aarde onder die skepsels wat vir ons groter liefde het as Jesus Christus nie⁴, Hý wat, alhoewel Hy in die gestalte van God was, Homself ontledig het deur vir ons die gestalte van ’n mens en van ’n slaaf aan te neem en aan sy broers in alle opsigte gelyk geword het⁵.
As ons dus moes soek na ’n ander middelaar wat ons goedgesind sou wees, wie sou ons dan kon vind wat groter liefde vir ons sou hê as Hy wat sy lewe vir ons afgelê het, selfs toe ons nog sy vyande was?⁶
En as ons een soek wat mag en aansien het, wie besit meer as Hy wat aan die regterhand van sy Vader sit⁷ en alle mag in die hemel en op die aarde het?⁸
En wie sal eerder verhoor word as die eie, geliefde Seun van God?⁹
Dit is slegs deur gebrek aan vertroue dat hierdie gewoonte posgevat het om die heiliges te onteer in plaas van hulle te vereer. So doen hulle iets wat die heiliges nooit gedoen of gesoek het nie maar wat hulle onophoudelik en pligsgetrou verwerp het, soos dit ook uit hulle skrifte blyk¹⁰.
Hier moet ook nie ingebring word dat ons dit onwaardig is nie. Daar is mos geen sprake van dat ons ons gebede op grond van ons waardigheid voor God bring nie. Ons doen dit alleen op grond van die uitnemendheid en waardigheid van Jesus Christus¹¹, want sy geregtigheid is ons geregtigheid deur die geloof¹².
Daarom sê die apostel — wanneer hy hierdie dwase vrees of liewer gebrek aan vertroue van ons wil wegneem — dat Jesus in elke opsig aan sy broers gelyk geword het, sodat Hy ’n barmhartige en getroue Hoëpriester voor God kon wees om die sondes van die volk te versoen. Omdat Hy self versoek is en gely het, kan Hy dié help wat versoek word¹³.
En om ons nog meer moed te gee, sê die apostel vervolgens: Terwyl ons dan ’n groot Hoëpriester het wat deur die hemele deurgegaan het, naamlik Jesus, die Seun van God, laat ons die belydenis vashou. Want ons het nie ’n hoëpriester wat nie met ons swakhede medelye kan hê nie, maar een wat in alle opsigte versoek is net soos ons, maar sonder sonde. Laat ons dan met vrymoedigheid na die troon van die genade gaan, sodat ons barmhartigheid kan verkry en genade vind om op die regte tyd gehelp te word¹⁴.
Dieselfde apostel sê: Terwyl ons dan, broeders, vrymoedigheid het om in die heiligdom in te gaan deur die bloed van Jesus… laat ons dan toetree met ’n waaragtige hart in volle geloofsversekerdheid…¹⁵.
En voorts: maar Hy, omdat Hy vir ewig bly, besit ’n priesterskap wat nie op ander oorgaan nie. Daarom kan Hy ook volkome red dié wat deur Hom tot God gaan, omdat Hy altyd leef om vir hulle in te tree¹⁶.
Wat kom daar nog kort, aangesien Christus self sê: Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom tot die Vader behalwe deur my nie¹⁷?
Waarom sal ons ’n ander voorspraak soek, aangesien dit God behaag het om ons sy Seun as Voorspraak te gee? Laat ons Hom geensins verlaat om ’n ander te neem of liewer om ’n ander een te soek sonder om hom ooit te vind nie. Want toe God Hom aan ons gegee het, het Hy goed geweet dat ons sondaars is. Volgens die bevel van Christus roep ons daarom die hemelse Vader aan deur Christus, ons enigste Middelaar¹⁸, soos dit in die gebed van die Here geleer word¹⁹; en ons is verseker dat alles wat ons die Vader in sy Naam sal bid, aan ons gegee sal word²⁰.
1: 1 Timoteus 2:5
2: 1 Johannes 2:1
3: Efesiërs 3:12
4: Matteus 11:28; Johannes 15:13; Efesiërs 3:19; 1 Johannes 4:10
5: Filippense 2:6-8; Hebreërs 2:17
6: Jeremia 2:13; Jeremia 2:33; Hosea 13:9; Johannes 10:11; Romeine 5:6-10
7: Markus 16:19; Kolossense 3:1; Hebreërs 1:3; Hebreërs 8:1
8: Matteus 28:18
9: Matteus 3:17; Johannes 11:42; Efesiërs 1:6
10: Handelinge 10:26; Handelinge 14:15
11: Jeremia 17:5; Jeremia 17:7; Daniël 9:18; Handelinge 4:12
12: 1 Korintiërs 1:30-31
13: Hebreërs 2:17-18
14: Hebreërs 4:14-16
15: Johannes 10:9; Efesiërs 2:18; Hebreërs 9:24; Hebreërs 10:19; Hebreërs 10:22
16: Romeine 8:34; Hebreërs 7:24-25
17: Johannes 14:6
18: Psalm 44:21; Hebreërs 13:15
19: Matteus 6:9-13; Lukas 11:2-4
20: Johannes 14:13; Johannes 16:23
Artikel 27: Die Algemene Christelike Kerk
Ons glo en bely ’n enige katolieke of algemene kerk¹, ’n heilige vergadering² van almal wat waarlik in Christus glo, wat almal hulle volle saligheid in Jesus Christus verwag³ en in sy bloed gewas is, geheilig en verseël deur die Heilige Gees⁴.
Hierdie kerk was daar van die begin van die wêreld af en sal tot die einde daar wees, want Christus is ’n ewige Koning, wat nooit sonder onderdane kan wees nie⁵.
Hierdie heilige kerk word deur geen plek of tyd beperk nie, maar is versprei en verstrooi oor die hele wêreld, en tog in eenheid van die ware geloof deur die krag van die Heilige Gees saamgevoeg en verenig¹.
Ons glo dat hierdie kerk deur die bloed van Christus bewaar en onderhou word, en dat dit nie deur menslike krag of instelling bestaan nie, maar deur die werking van God se Gees².
Daarom verwerp ons die dwaling van diegene wat sê dat die kerk slegs in een plek of by een bepaalde groep mense bestaan, want die kerk is die liggaam van Christus, wat deur die Heilige Gees uit alle nasies en tye versamel word³.
1: Johannes 10:16; Efesiërs 4:3-6; 1 Korintiërs 12:12-13
2: Matteus 16:18; Handelinge 20:28; Efesiërs 5:25-27
3: Openbaring 7:9; Efesiërs 2:19-22
Artikel 28: Die Verpligting om by die Ware Kerk Aan te Sluit
Ons glo dat niemand homself van hierdie heilige vergadering mag afsonder of uitsluit nie, aangesien alle gelowiges verplig is om by die kerk van God aan te sluit en in gemeenskap daarmee te lewe¹.
Hierdie kerk is die plek waar God sy Woord suiwer laat verkondig, waar die sakramente volgens Christus se instelling bedien word, en waar die kerkdissipline in liefde toegepas word².
Daarom is dit die plig van alle gelowiges om hulleself by die ware kerk te voeg, om in eenheid met ander gelowiges te lewe en om die juk van Christus te dra deur sy Woord te gehoorsaam³.
Ons verwerp die dwaling van diegene wat sê dat ’n mens buite die kerk kan lewe en nogtans gered word, want buite die kerk is daar geen saligheid nie, aangesien Christus die Hoof van sy kerk is en niemand sonder Hom kan lewe nie⁴.
1: Handelinge 2:42; Hebreërs 10:25
2: Matteus 18:15-18; Handelinge 20:28; 1 Korintiërs 5:4-5
3: Matteus 11:29-30; Johannes 15:10
4: Johannes 15:5; Efesiërs 4:15-16
Artikel 29: Die Merktekens van die Ware Kerk
Ons glo dat ons die ware kerk van God en die valse kerk moet onderskei aan die hand van die merktekens wat die Heilige Skrif ons gee. Die ware kerk word gekenmerk deur die volgende:
- Die suiwer prediking van die evangelie¹.
- Die suiwer bediening van die sakramente soos Christus dit ingestel het².
- Die toepassing van kerkdissipline om die sonde te bestraf en te korrigeer³.
Aan hierdie merktekens kan ’n mens die liggaam van Christus en sy ware kerk duidelik uitken. Dit is nie nodig om ’n groot getal of uiterlike prag te soek nie, maar waar hierdie dinge in eenvoud en opregtheid teenwoordig is, daar is die kerk van God⁴.
Ons verwerp die valse kerk wat haar gesag op menslike instellings, tradisies of uiterlike seremonies grondves in plaas van op die Woord van God⁵.
Daarom moet alle gelowiges noukeurig ondersoek waar die ware kerk is en hulleself daarby aansluit, terwyl hulle die valse kerk vermy wat die Woord van God verdraai⁶.
1: Galasiërs 1:8-9; 1 Timoteus 3:15
2: Matteus 28:19; 1 Korintiërs 11:23-25
3: Matteus 18:15-18; 1 Korintiërs 5:11-13
4: Handelinge 2:42; Efesiërs 2:20
5: Matteus 15:9; Kolossense 2:22-23
6: 2 Timoteus 2:17-20
Artikel 30: Die Regering van die Kerk
Ons glo dat die ware kerk volgens die Woord van God geregeer moet word en nie deur menslike uitvindsels nie¹.
Daarom moet die kerk amptedraers hê — leraars, ouderlinge en diakens — wat volgens die reëls van die Skrif aangestel word om die gemeente te lei, die Woord te verkondig, die sakramente te bedien en die armes te versorg².
Hierdie ampsbediening word nie ingestel om oor die gemeente te heers nie, maar om te dien en om die orde en eenheid in die kerk te bevorder³.
Ons verwerp daarom alle menslike uitvindsels en ampsbedienings wat nie op die Woord van God gegrond is nie, soos die pousdom en ander hiërargiese strukture wat die vryheid van die kerk onderdruk⁴.
1: 1 Timoteus 3:1-13; Titus 1:5-9
2: Handelinge 6:1-4; Handelinge 20:28; Efesiërs 4:11-12
3: Matteus 20:25-28; 1 Petrus 5:1-4
4: Matteus 23:8-10; Kolossense 2:18-19
Artikel 31: Die Aanstelling van Ampsdraers
Ons glo dat die leraars, ouderlinge en diakens deur ’n wettige verkiesing deur die kerk aangestel moet word, met gebed en in die vrees van God, volgens die reëls wat in die Heilige Skrif gegee word¹.
Hulle wat aangestel word, moet bevoeg wees en ’n goeie getuienis hê, sodat die kerk deur hul diens opgebou word².
Ons verwerp die aanstelling van ampsdraers deur menslike mag of dwang, want die gesag van die ampsdraers kom uit die Woord van God en nie uit menslike gesag nie³.
Daarom moet die kerk met groot sorg en gebed hierdie ampsdraers kies, sodat die eer van God en die welstand van die gemeente bevorder word⁴.
1: Handelinge 1:23-26; Handelinge 6:3; 1 Timoteus 3:1-7
2: 1 Timoteus 3:8-10; Titus 1:7-9
3: Johannes 10:1-2; Handelinge 20:28
4: Handelinge 14:23; Titus 1:5
Artikel 32: Die Orde en Dissipline in die Kerk
Ons glo dat die kerk ’n orde en dissipline moet hê om die suiwerheid van die leer en die heiligheid van die lewe van sy lede te bewaar¹.
Hierdie dissipline moet in liefde en met wysheid toegepas word, volgens die voorskrifte van die Woord van God, om die sondaar tot bekering te lei en die gemeente te beskerm teen die kwaad van die sonde².
Ons verwerp die oormatige strengheid of laksheid in die kerkdissipline, want dit moet altyd tot die eer van God en die opbou van die gemeente strek³.
Daarom moet die ampsdraers en die gemeente saamwerk om hierdie orde te handhaaf, met geduld en gebed, sodat die kerk in vrede en heiligheid kan lewe⁴.
1: Matteus 18:15-18; 1 Korintiërs 5:4-5
2: 2 Korintiërs 2:6-8; Galasiërs 6:1
3: 1 Korintiërs 14:40; 1 Tessalonisense 5:14
4: Hebreërs 12:11; Jakobus 5:16
Artikel 33: Die Sakramente
Ons glo dat ons goeie God, uit insig in ons swakheid, twee sakramente in sy kerk ingestel het om ons geloof te versterk en ons aan Christus te verbind: die Doop en die Nagmaal van die Here¹.
Hierdie sakramente is sigbare tekens en seëls van die onsigbare genade van God, wat ons deur die Heilige Gees met Christus se verdienste verenig².
Ons verwerp die opvatting dat die sakramente uit hulleself krag of genade besit, want die krag daarvan lê in die belofte van God en die geloof van die ontvanger³.
Daarom moet die sakramente in ooreenstemming met Christus se instelling bedien word, en ons verwerp alle byvoegings of veranderinge wat die eenvoud van hierdie instelling verdraai⁴.
1: Matteus 28:19; 1 Korintiërs 11:23-25
2: Romeine 4:11; Handelinge 2:38; 1 Korintiërs 10:16-17
3: Hebreërs 11:6; 1 Petrus 3:21
4: 1 Korintiërs 11:20-22; Galasiërs 5:2-4
Artikel 34: Die Heilige Doop
Ons glo dat die doop met water ingestel is om die afwassing van ons sondes deur die bloed van Christus aan te dui¹.
Die doop is ’n teken en seël van die verbond van God se genade, waardeur ons in die gemeenskap van die kerk opgeneem word en as lede van Christus se liggaam gekenmerk word².
Ons glo ook dat die kinders van gelowiges in hierdie verbond ingesluit is en daarom gedoop moet word, aangesien die belofte ook aan hulle en hul nageslag gegee is³.
Ons verwerp die dwaling van die Wederdopers, wat die kinderdoop verwerp en sê dat die doop slegs vir volwasse gelowiges is, want die Skrif leer dat die verbond van God ook die kinders insluit⁴.
Die doop moet eenvoudig met water in die Naam van die Vader, die Seun en die Heilige Gees bedien word, volgens die instelling van Christus⁵.
1: Handelinge 2:38; Handelinge 22:16; 1 Petrus 3:21
2: Romeine 6:3-4; Galasiërs 3:27
3: Genesis 17:7; Handelinge 2:39; 1 Korintiërs 7:14
4: Matteus 19:14; Handelinge 16:15; Handelinge 16:33
5: Matteus 28:19
Artikel 35: Die Nagmaal van die Here
Ons glo en bely dat ons Here Jesus Christus die Nagmaal ingestel het om ons geloof te voed en te versterk deur die gemeenskap aan sy liggaam en bloed¹.
In hierdie sakrament word ons, deur die werking van die Heilige Gees, met die gekruisigde en opgestane Christus verenig, sodat ons sy verdienste ontvang en in Hom versterk word².
Ons verwerp die opvatting dat die brood en wyn in die Nagmaal letterlik in die liggaam en bloed van Christus verander, want die Skrif leer dat die brood en wyn tekens bly, maar dat ons deur geloof waarlik aan Christus deel het³.
Ons verwerp ook die misbruik van die Nagmaal waar dit as ’n offerande vir die sondes beskou word, want Christus se offer aan die kruis was eenmalig en voldoende vir alle tye⁴.
Daarom moet die Nagmaal in ooreenstemming met Christus se instelling gevier word, met danksegging en in gemeenskap met die gelowiges⁵.
1: Matteus 26:26-28; 1 Korintiërs 11:23-25
2: 1 Korintiërs 10:16-17; Johannes 6:56
3: 1 Korintiërs 11:24-25; Johannes 6:63
4: Hebreërs 7:27; Hebreërs 9:26; Hebreërs 10:10
5: Handelinge 2:42; 1 Korintiërs 11:33
Artikel 36: Die Owerheid
Ons glo dat ons goeie God, uit sy barmhartigheid, die owerheid ingestel het om orde in die samelewing te handhaaf, die goeie te beskerm en die kwaad te straf¹.
Daarom is dit die plig van die owerheid om die prediking van die Woord van God te bevorder en te beskerm, sodat die kerk in vrede kan bestaan en God se eer bevorder word².
Ons glo ook dat alle mense die owerheid moet gehoorsaam en respek betoon, vir sover dit nie met die Woord van God in stryd is nie, en dat ons vir die owerheid moet bid sodat God hul werk sal seën³.
Ons verwerp die dwaling van diegene wat die owerheid verag of oproer teen haar aanstig, want dit is teen die orde van God⁴.
Tog erken ons dat, waar die owerheid ons dwing om teen God se Woord te handel, ons eerder God as mense moet gehoorsaam⁵.
1: Romeine 13:1-4; 1 Petrus 2:13-14
2: 1 Timoteus 2:1-2; Psalm 82:1-4
3: Romeine 13:7; 1 Timoteus 2:1-2
4: Romeine 13:2; Judas 8-10
5: Handelinge 4:19; Handelinge 5:29
Artikel 37: Die Laaste Oordeel
Ons glo dat die Here Jesus Christus op die laaste dag met groot majesteit en heerlikheid sal terugkom om die lewendes en die dooies te oordeel¹.
Op daardie dag sal die goddelose mense veroordeel word tot die ewige straf in die hel, waar hulle die verskriklike toorn van God sal ervaar².
Maar die gelowiges, wat in Christus se geregtigheid beklee is, sal die ewige lewe ontvang en in die nuwe hemel en nuwe aarde met God verenig word, waar daar geen sonde, pyn of dood meer sal wees nie³.
Ons verwerp die dwaling van diegene wat ontken dat daar ’n opstanding van die liggaam of ’n laaste oordeel sal wees, want die Skrif leer duidelik dat Christus sal terugkom om die wêreld te oordeel⁴.
Daarom leef ons in die verwagting van sy koms, met waaksaamheid en gebed, sodat ons gereed sal wees om Hom te ontmoet wanneer Hy kom⁵.
1: Matteus 25:31-46; Handelinge 1:11; Openbaring 20:11-15
2: Matteus 13:41-42; 2 Tessalonisense 1:7-9; Openbaring 21:8
3: Johannes 5:28-29; 1 Korintiërs 15:51-54; Openbaring 21:1-4
4: Handelinge 17:31; Hebreërs 9:27
5: Matteus 24:42-44; 1 Tessalonisense 5:2-6