Waarheid wat Gesien Word
Inleiding: ‘n Duik in ‘n deur
Dis Saterdagoggend by die winkelsentrum. Jy trek agteruit uit die parkeerplek, effens te vinnig, en hoor die doef. Jy klim uit. Daar is ‘n duik in die deur van ‘n silwer bakkie langs jou, nie groot nie, maar groot genoeg. Die eienaar is nêrens nie. Die sekuriteitswag kyk die ander kant toe. Niemand het dit gesien nie.
Jy staan ‘n oomblik daar met jou sleutels in die hand.
Hierdie oomblik het niks met teorieë oor waarheid te doen nie. Jy hoef nie te weet wat Aristoteles gesê het of wat ‘n relativis glo nie. En tog is dit miskien die belangrikste vraag oor waarheid wat jy hierdie maand gaan beantwoord. Want dit gaan nie meer oor wat waar is nie. Die vraag is: gaan jy waar wees?
In die eerste drie opstelle het ons gevra wat waarheid is, of ons dit kan ken, en wie se waarheid dit is. Hierdie laaste opstel vra wat dit beteken om in die waarheid te leef.
1. Waarheid wat jy doen
Ons begin weer by die Hebreeuse woord emet. Ons het in die eerste opstel gesien dat dit nie net “waarheid” beteken nie, maar ook trou, betroubaarheid, vastigheid. ‘n Ware mens, in die Bybelse sin, is nie net iemand wie se woorde korrek is nie. Dis iemand op wie jy kan staatmaak.
Dit verklaar ‘n vreemde uitdrukking wat Johannes ‘n paar keer gebruik. In die Grieks praat hy letterlik van mense wat die waarheid doen (Johannes 3:21; 1 Johannes 1:6). In ons taal klink dit so ongewoon dat die 1983-vertaling dit omskryf as “volgens die waarheid handel”. ‘n Mens ken die waarheid, of praat dit. Hoe doen jy dit?
Maar dink weer aan die getuie in die hof uit die eerste opstel. Hy belowe nie net om korrekte sinne te sê nie. Hy belowe dat sy woorde sal klop met wat gebeur het, en hy staan met sy naam daarvoor in. Die waarheid word iets wat hy doen. En dink aan God, wat Homself in Eksodus 34 beskryf as ryk aan liefde en trou. God se waarheid is nie in die eerste plek ‘n lys korrekte stellings nie. Dis die feit dat Hy doen wat Hy sê.
So gesien is ‘n leuen nie net ‘n verkeerde sin nie. Dis ‘n breuk tussen wat ek is en wat ek sê. En waarheid is nie net ‘n regte sin nie. Dis die ooreenstemming tussen my lewe en my woorde.
2. Wat die Kategismus vra
Die Heidelbergse Kategismus vat dit pragtig saam in sy verduideliking van die negende gebod, “Jy mag geen valse getuienis teen jou naaste spreek nie”. Wat wil God hier hê? Die antwoord (Vraag 112) begin soos ‘n mens sou verwag: dat ek nie vals getuienis lewer nie, niemand se woorde verdraai nie, en alle leuens en bedrog vermy.
Maar dan sê dit iets wat verder gaan: dat ek “in regspraak en in alle ander sake die waarheid liefhet, opreg spreek en bely”, en die eer en goeie naam van my naaste verdedig en bevorder.
Let op die drie werkwoorde: die waarheid liefhê, opreg spreek, bely. Die negende gebod vra nie net dat ek nie lieg nie. Dit vra dat ek die waarheid liefhet. Dit vra ‘n ander soort mens. Iemand wat net nie lieg nie, kan nog koud en berekenend wees. Iemand wat die waarheid liefhet, wil dit hê, ook as dit hom iets kos.
En kyk waar die antwoord eindig: by my naaste se goeie naam. Die waarheid is nie ‘n wapen om mense mee te slaan nie. Dit staan in diens van die mense rondom my.
3. Wat dit kos
Om die waarheid lief te hê, is nie goedkoop nie.
Dit kos jou die paneelklopper se rekening vir die bakkie se deur. Dit kos jou die bevordering as jy weier om die syfers te laat lyk soos die bestuur dit wil hê. Dit kos jou ‘n gemaklike aand as jy vir ‘n vriend sê wat hy nie wil hoor nie. Soms kos dit jou meer.
In die vorige opstel het ons gesien dat die leuenaar ten minste nog omgee vir die waarheid. Hy moet dit ken om dit weg te steek. Die gevaarliker mens is die een vir wie dit nie meer saak maak nie. Maar daar is ‘n derde soort mens, en om hom te wees, is die moeilikste: die een wat die waarheid ken en dit dan doen, al kos dit hom.
Hier gee die Bybel ons nie ‘n reël nie, maar ‘n Persoon. Die Een wat sê “Ek is die waarheid”, het nie net die waarheid geken en gepraat nie. Hy het dit gedoen, tot by die kruis. Voor Pilatus kon Hy Homself met ‘n paar versigtige woorde gered het. Hy het nie. Sy lewe het met sy woorde ooreengestem, en dit het Hom alles gekos.
4. Waarheid in liefde
Maar hier is ‘n slaggat, en Christene val maklik daarin. Daar is mense wat die waarheid liefhet en dit soos ‘n hamer gebruik. Hulle sê wat waar is, en hulle sê dit hard, en hulle is trots daarop dat hulle nie doekies omdraai nie. Hulle is dikwels reg. En hulle laat ‘n spoor van seergemaakte mense agter.
Paulus skryf aan die gemeente in Efese dat ons in liefde by die waarheid moet bly (Efesiërs 4:15). Nie die waarheid in plaas van liefde nie, en ook nie liefde in plaas van die waarheid nie. Albei, tegelyk.
Die Amerikaanse skrywer Francis Schaeffer, wie se huis in Switserland jare lank oopgestaan het vir jongmense met vrae oor geloof, het dit in 1970 in ‘n kort boekie, The Mark of the Christian, só gestel:
Nie sy heiligheid sonder sy liefde nie: dit is net hardheid. Nie sy liefde sonder sy heiligheid nie: dit is net kompromis.
Schaeffer praat hier van God se karakter, wat Christene moet weerspieël. God is nie net heilig nie, en nie net liefdevol nie. Hy is albei, volkome. ‘n Christen wat net heiligheid wys, wys ‘n karikatuur van God: ‘n streng regter sonder hart. ‘n Christen wat net liefde wys, wys ‘n ander karikatuur: ‘n gawe oom wat nie omgee wat jy doen nie. Die wêreld het nie een van die twee nodig nie. Dit het die ware God nodig.
Dit is wat dit beteken om in liefde by die waarheid te bly. Die waarheid sonder liefde word wreed. Die liefde sonder die waarheid word leeg. Jesus was “vol genade en waarheid” (Johannes 1:14), en nie die een ten koste van die ander nie.
5. ‘n Wêreld wat kyk
Schaeffer het nog iets in daardie boekie gesê wat vandag selfs skerper klink as toe hy dit geskryf het. Hy het opgemerk dat moderne mense nie meer eers in die moontlikheid van absolute waarheid glo nie. ‘n Halwe eeu gelede het hy al gesien wat ons in die derde opstel bespreek het.
Sy gevolgtrekking was eenvoudig en ontstellend. As mense nie meer in waarheid glo nie, gaan hulle nie na ons leer luister nie. Hulle gaan nie omgee of ons argumente reg is nie. Maar daar is een ding wat hulle wel raaksien, omdat elke mens na God se beeld geskep is en na liefde smag: hoe Christene mekaar behandel.
Jesus het dit self gesê. “As julle mekaar liefhet, sal almal weet dat julle dissipels van My is” (Johannes 13:35). En in sy gebed die aand voor sy kruisiging vra Hy dat sy volgelinge een sal wees, “sodat die wêreld kan glo dat U My gestuur het” (Johannes 17:21). Schaeffer noem dit “die finale apologetiek”: die laaste en sterkste verdediging van die geloof is nie ‘n argument nie, maar ‘n gemeenskap.
Dit is ‘n ongemaklike gedagte vir mense soos ons wat lief is vir argumente. Ons het vier opstelle lank oor waarheid geredeneer. Ons gaan in die reekse wat volg nog baie meer redeneer, en dit is goed en nodig. Maar Schaeffer herinner ons: die wêreld gaan ons argumente toets aan ons lewe. As ons van die waarheid praat en nie in die waarheid leef nie, is ons argumente niks werd nie. Erger: dan bewys ons die relativis se stelling, dat “waarheid” maar net ‘n woord is wat mense gebruik om hulle sin te kry.
Die waarheid moet gesien word voordat dit gehoor word.
6. Waar dit alles begin
Dit kan swaar klink. Wie kan altyd die waarheid doen, altyd in liefde by die waarheid bly, altyd ‘n lewe lei wat die wêreld kan oortuig? Niemand nie. Ons sal die waarheid verbuig, ons sal hard wees waar ons sag moes wees, en sag waar ons eerlik moes wees.
Maar onthou waar ons begin het. Waarheid begin nie by ons nie. Dit begin by God, wat getrou is. Die Heidelbergse Kategismus open nie met ‘n opdrag nie, maar met ‘n troos: dat ek met liggaam en siel, in lewe en in sterwe, nie aan myself nie, maar aan my getroue Saligmaker, Jesus Christus, behoort (Vraag 1). Daar is emet weer: die trou van Een wat sy woord hou.
Ons word nie waar deur hard genoeg te probeer nie. Ons word waar deur aan die Waarheid te behoort, en Hom stadigaan in ons te laat groei. Die Een wat Pilatus nie kon verstaan nie, is dieselfde Een wat belowe het dat sy Gees ons in die hele waarheid sal lei (Johannes 16:13). Hy is nog nie klaar met ons nie.
7. Die einde van die begin
Hiermee is die Proloog klaar. Ons het gevra wat waarheid is, en gesien dat dit ooreenstemming is tussen woorde en werklikheid, wat begin by God se trou. Ons het gevra of ons dit kan ken, en gesien dat ons kennis nederig is maar werklik, soos ‘n afdruk van ‘n seël. Ons het gevra wie se waarheid dit is, en gesien dat dit nie ons s’n is nie, maar God s’n. En nou het ons gesien dat die waarheid geleef moet word.
Die reekse wat volg, neem elkeen een van die groot vrae van ons tyd op: of God bestaan, hoe die wetenskap en die geloof saampas, waarom daar lyding is, wat ‘n mens is, en meer. Ons gaan dit aanpak soos ons hier begin het: eerlik, nederig en met die oortuiging dat ons nie vir die waarheid bang hoef te wees nie.
Terug by die bakkie
Jy staan nog by die parkeerplek. Jy krap in die kar se paneelkissie, kry ‘n ou kwitansie en ‘n pen, en skryf jou naam en nommer neer. Dan druk jy dit onder die bakkie se ruitveër in.
Dit gaan jou ‘n paar duisend rand kos. Niemand sal ooit daarvan hoor nie, behalwe die eienaar van ‘n silwer bakkie wat vanmiddag verbaas gaan wees.
Dis waarskynlik die duurste preek oor die negende gebod wat jy hierdie jaar gaan hou. Dis ook die beste.
Besprekingsvrae
-
Die duik in die deur: Wat sou jy gedoen het? Waarom is dit soms moeiliker om die waarheid te doen as om dit te weet?
-
Die waarheid liefhê: Die Kategismus vra nie net dat ons nie lieg nie, maar dat ons die waarheid liefhet. Wat is die verskil? Hoe lyk dit in die praktyk?
-
Hamer of kompromis: Neig jy eerder na heiligheid sonder liefde (hardheid) of na liefde sonder heiligheid (kompromis)? Hoe lyk die balans in ‘n moeilike gesprek wat jy binnekort moet voer?
-
Die finale apologetiek: Schaeffer sê die wêreld het die reg om ons te meet aan hoe ons mekaar liefhet. Is dit regverdig? Wat sou ‘n buitestaander van jou gemeente aflei as hy net kyk hoe julle mekaar behandel?
-
Vir die groep: Watter een van die vier opstelle in hierdie Proloog het jou die meeste laat dink, en waarom?
Aanbevole Leeswerk
-
Francis A. Schaeffer — The Mark of the Christian (1970) ‘n Boekie wat jy in een sit kan lees, en wat jou lank daarna nog gaan pla.
-
Die Heidelbergse Kategismus — Sondag 1 en Sondag 43 Die troos om aan ‘n getroue Saligmaker te behoort, en wat dit beteken om die waarheid lief te hê.
Bibliografie
-
Die Heidelbergse Kategismus. 1563. Vraag 1 en Vraag 112. Teks soos op hierdie webwerf (Kategismus, Sondag 1 en 43). – Troos in ‘n getroue Saligmaker; die negende gebod.
-
Schaeffer, Francis A. The Mark of the Christian. InterVarsity Press, 1970. Pp. 25–28, 35–36. – Liefde as die merk van die Christen; “die finale apologetiek”; heiligheid en liefde tegelyk.
Truth That Is Seen
Introduction: a dent in a door
It’s Saturday morning at the shopping centre. You reverse out of the parking bay, a little too fast, and hear the thud. You get out. There’s a dent in the door of the silver bakkie next to you, not big, but big enough. The owner is nowhere to be seen. The security guard is looking the other way. Nobody saw it.
You stand there for a moment with your keys in your hand.
This moment has nothing to do with theories of truth. You don’t need to know what Aristotle said or what a relativist believes. And yet it may be the most important question about truth you will answer this month. Because the question is no longer: what is true? The question is: are you going to be true?
In the first three essays we asked what truth is, whether we can know it, and whose truth it is. This last essay asks what it means to live in the truth.
1. Truth you do
We start again with the Hebrew word emet. We saw in the first essay that it means not only “truth” but also faithfulness, reliability, firmness. A true person, in the biblical sense, is not just someone whose words are correct. It is someone you can rely on.
That explains a strange expression John uses a few times. He speaks of people who do the truth (John 3:21; 1 John 1:6). In English it sounds almost wrong. You know the truth, or you tell the truth. How do you do it?
But think again of the witness in court from the first essay. He does not promise only to say correct sentences. He promises that his words will match what happened, and he puts his name behind it. Truth becomes something he does. And think of God, who in Exodus 34 describes himself as abounding in steadfast love and faithfulness. God’s truth is not first of all a list of correct statements. It is that he does what he says.
Seen this way, a lie is not just a wrong sentence. It is a break between what I am and what I say. And truth is not just a right sentence. It is when my life and my words match.
2. What the Catechism asks
The Heidelberg Catechism sums this up beautifully in its explanation of the ninth commandment, “You shall not bear false witness against your neighbour”. What does God require here? The answer (Question 112) begins as you would expect: that I bear false witness against no one, twist no one’s words, and avoid all lying and deceit.
But then it goes further: that “in matters of judgment and justice, and in all other affairs, I love, speak, and confess the truth honestly”, and defend and promote my neighbour’s good name.
Notice the three verbs: love, speak, confess the truth. The ninth commandment does not only ask that I don’t lie. It asks that I love the truth. That is a different kind of person. Someone who merely doesn’t lie can still be cold and calculating. Someone who loves the truth wants it, even when it costs him something.
And notice where the answer ends: with my neighbour’s good name. Truth is not a weapon to hit people with. It stands in the service of the people around me.
3. What it costs
Loving the truth is not cheap.
It costs you the panel beater’s bill for the bakkie’s door. It costs you the promotion when you refuse to make the numbers look the way management wants them to. It costs you a comfortable evening when you tell a friend what he doesn’t want to hear. Sometimes it costs more.
In the third essay we saw that the liar at least still cares about the truth. He has to know it to hide it. The more dangerous person is the one for whom it no longer matters. But there is a third kind of person, and he is the hardest to be: the one who knows the truth, and then does it, even when it costs him.
This is where the Bible does not leave us with a rule, but with a Person. The One who says “I am the truth” did not only know and speak the truth. He did it, all the way to the cross. Before Pilate he could have saved himself with a few careful words. He didn’t. His life matched his words, and it cost him everything.
4. Truth in love
But there is a trap here, and Christians fall into it easily. There are people who love the truth and use it like a hammer. They say what is true, and they say it hard, and they are proud that they don’t beat about the bush. They are often right. And they leave a trail of wounded people behind them.
Paul writes to the church in Ephesus that we must speak the truth in love (Ephesians 4:15). Not truth instead of love, and not love instead of truth. Both, together.
The American writer Francis Schaeffer, who for years kept an open house in Switzerland for young people with questions about faith, put it this way in 1970 in a short book, The Mark of the Christian:
Not his holiness without his love: that is only harshness. Not his love without his holiness: that is only compromise.
Schaeffer is speaking here of God’s character, which Christians are meant to reflect. God is not only holy, and not only loving. He is both, completely. A Christian who shows only holiness shows a caricature of God: a strict judge without a heart. A Christian who shows only love shows another caricature: a kindly uncle who doesn’t mind what you do. The world doesn’t need either. It needs the real God.
That is what it means to speak the truth in love. Truth without love becomes cruel. Love without truth becomes empty. Jesus was “full of grace and truth” (John 1:14), and not the one at the expense of the other.
5. A world that watches
Schaeffer said something else in that little book that sounds even sharper today than when he wrote it. He observed that modern people “no longer believe even in the possibility of absolute truth”. Half a century ago he already saw what we discussed in the third essay.
His conclusion was simple and unsettling. If people no longer believe in truth, they will not listen to our doctrine. They will not care whether our arguments are right. But there is one thing they do notice, because every person is made in God’s image and longs for love: how Christians treat one another.
Jesus said it himself. “By this all people will know that you are my disciples, if you have love for one another” (John 13:35). And in his prayer on the night before his crucifixion he prays that his followers may be one, “so that the world may believe that you have sent me” (John 17:21). Schaeffer calls this “the final apologetic”: the last and strongest defence of the faith is not an argument but a community.
That is an uncomfortable thought for people like us who like arguments. We have reasoned about truth for four essays. In the series that follow we will reason a great deal more, and that is good and necessary. But Schaeffer reminds us: the world will test our arguments against our lives. If we talk about truth and do not live in the truth, our arguments are worth nothing. Worse: then we prove the relativist’s point, that “truth” is just a word people use to get their way.
Truth has to be seen before it is heard.
6. Where it all begins
That can sound heavy. Who can always do the truth, always speak in love, always live a life that convinces the world? Nobody. We will bend the truth, we will be hard where we should have been gentle, and gentle where we should have been honest.
But remember where we began. Truth does not begin with us. It begins with God, who is faithful. The Heidelberg Catechism does not begin with a command but with a comfort: that I, with body and soul, both in life and in death, am not my own, but belong to my faithful Saviour Jesus Christ (Question 1). There is emet again: the faithfulness of One who keeps his word.
We do not become true by trying hard enough. We become true by belonging to the Truth, and letting him grow in us slowly. The One Pilate could not understand is the same One who promised that his Spirit would guide us into all the truth (John 16:13). He is not finished with us yet.
7. The end of the beginning
With this the Prologue is done. We asked what truth is, and saw that it is the match between words and reality, beginning in God’s faithfulness. We asked whether we can know it, and saw that our knowledge is humble but real, like the impression of a seal. We asked whose truth it is, and saw that it is not ours but God’s. And now we have seen that truth has to be lived.
The series that follow each take up one of the big questions of our time: whether God exists, how science and faith fit together, why there is suffering, what a human being is, and more. We will approach them as we began here: honestly, humbly, and convinced that truth is nothing to be afraid of.
Back at the bakkie
You are still standing at the parking bay. You dig in the cubbyhole, find an old receipt and a pen, and write down your name and number. Then you tuck it under the bakkie’s windscreen wiper.
It is going to cost you a few thousand rand. Nobody will ever hear about it, except the owner of a silver bakkie who is going to be surprised this afternoon.
It is probably the most expensive sermon on the ninth commandment you will preach this year. It is also the best.
Discussion Questions
-
The dent in the door: What would you have done? Why is it sometimes harder to do the truth than to know it?
-
Loving the truth: The Catechism asks not only that we don’t lie, but that we love the truth. What is the difference? What does it look like in practice?
-
Hammer or compromise: Do you lean more towards holiness without love (harshness) or love without holiness (compromise)? What would the balance look like in a difficult conversation you have to have soon?
-
The final apologetic: Schaeffer says the world has the right to judge us by how we love one another. Is that fair? What would an outsider conclude about your congregation if he only watched how you treat one another?
-
For the group: Which of the four essays in this Prologue made you think the most, and why?
Recommended Reading
-
Francis A. Schaeffer — The Mark of the Christian (1970) A little book you can read in one sitting, and that will trouble you long afterwards.
-
The Heidelberg Catechism — Lord’s Day 1 and Lord’s Day 43 The comfort of belonging to a faithful Saviour, and what it means to love the truth.
Bibliography
-
The Heidelberg Catechism. 1563. Question 1 and Question 112. Text as on this site (Catechism, Lord’s Days 1 and 43). – Comfort in a faithful Saviour; the ninth commandment.
-
Schaeffer, Francis A. The Mark of the Christian. InterVarsity Press, 1970. Pp. 25–28, 35–36. – Love as the mark of the Christian; “the final apologetic”; holiness and love together.