Oorsig — Wetenskap & Werklikheid

— deur Attie Retief

Wetenskap & Werklikheid

Inleiding

In ons eerste reeks het ons saam ‘n diep pad gestap. Ons het gevra: Wie is God werklik? Ons het ontdek dat die God van die Skrif en die groot Christelike tradisie nie maar net die grootste ding in die heelal is nie. Hy is die oneindige grond van alle bestaan, die suiwere Syn self, van wie alles afhang en wat van niks afhang nie. Ons het by Eksodus 3:14 begin, deur die klassieke tradisie van Aquinas en Bavinck gestap, en uiteindelik voor die wonder van die lewende God gaan staan: eenvoudig, oneindig, persoonlik, onuitspreeklik naby.

Daardie fondament is onontbeerlik vir wat nou volg. Want ons leef in ‘n wêreld wat ‘n ander gesag opgerig het, ‘n gesag wat vir baie mense die plek van God ingeneem het. Jy hoor dit elke dag in die nuus, op sosiale media, in klaskamers, selfs in koffiewinkel-gesprekke. Altyd dieselfde frase:

“Die wetenskap sê…”

En wanneer die wetenskap “gesê” het, is die gesprek vir baie mense verby.

Hierdie reeks, Wetenskap & Werklikheid, wil nie die wetenskap afkraak nie. Inteendeel: die wetenskap is een van die mooiste geskenke wat uit die Christelike tradisie voortgekom het, en ‘n diep agting vir wetenskaplike ondersoek hoort volkome by ons geloof. Maar die vraag bly: Wat kan die wetenskap werklik vir ons sê, en wat kan dit nie? Waar eindig wetenskaplike kennis en begin wetenskaplike aanmatiging? En hoe pas die fisiese wêreld wat die wetenskap onthul, in by die God wat ons in Reeks 1 leer ken het?

Ons doen dit weer as gemeente, saam. Nie as verdedigers wat ‘n muur om die geloof probeer bou nie, maar as pelgrims wat eerlik wil dink oor die werklikheid waarin ons leef. Die waarheid het nie ons beskerming nodig nie. Dit nooi ons uit om dit te ontdek.

Hoekom hierdie reeks?

Daar is min plekke waar die spanning tussen geloof en kultuur so skerp gevoel word as by die woord wetenskap. Baie gelowiges, veral jongmense wat universiteit toe gaan of ouers wat hulle kinders se vrae moet beantwoord, voel ‘n stil ongemak. Hulle het die indruk gekry dat die wetenskap die geloof weerspreek, dat die heelal “uit niks” gekom het sonder dat Iemand dit gemaak het, dat die brein net ‘n masjien is, dat evolusie die idee van ‘n Skepper oorbodig gemaak het.

Hierdie indrukke is nie toevallig nie. Hulle word aktief bevorder deur ‘n spesifieke filosofiese posisie: sciëntisme, die geloof dat die natuurwetenskap die enigste bron van ware kennis is. Sciëntisme is nie wetenskap nie; dit is ‘n filosofiese oortuiging oor wetenskap, en een wat homself weerspreek.

Die invloed daarvan is wyd. Dit het ‘n kulturele klimaat geskep waarin gelowiges voel asof hulle moet kies: óf jy is ‘n denkende mens wat die wetenskap volg, óf jy is ‘n gelowige wat in die donker rondtas. Hierdie vals keuse, hierdie kunsmatige skeiding, wil ons ontmasker. Nie met retoriek nie, maar met eerlike ondersoek.

Die Christelike geloof staan nie in spanning met die wetenskap nie. Dit is juis die grond waaruit die moderne wetenskap gegroei het. En die mees verrassende ontdekkings van die moderne fisika, kosmologie en neurowetenskappe resoneer op ‘n diep vlak met wat die Skrif ons al eeue lank leer.

Die pad vorentoe: Agt sessies

Hier is ‘n oorsig van die reis wat voor ons lê. Elke sessie bou op die vorige, maar elkeen kan ook op sy eie staan as ‘n afgeronde gesprek.

Sessie 1 — Wat is Wetenskap Werklik?

Wat is wetenskap eintlik? Die meeste mense gebruik die woord asof dit een eenvoudige ding is, maar die werklikheid is ryker en ingewikkelder. Die wetenskapsfilosofie, die tak van denke wat hierdie vraag ondersoek, het in die twintigste eeu ‘n fassinerende reis deurgemaak.

Karl Popper het aangetoon dat wetenskap werk deur weerlegbaarheid: ‘n teorie is wetenskaplik as dit in beginsel verkeerd bewys kan word. Thomas Kuhn het bygevoeg dat wetenskap nie ‘n reguit lyn van vooruitgang is nie, maar in “paradigmaskuiwe” beweeg, hele raamwerke wat vervang word deur nuwe maniere om na die werklikheid te kyk. Michael Polanyi het ons herinner dat selfs wetenskaplike kennis ‘n persoonlike dimensie het: daar is oortuigings, intuïsies en tradisies wat elke wetenskaplike se werk onderlê.

Die verskil tussen wetenskap en sciëntisme is hier deurslaggewend. Wetenskap is ‘n metode om die natuurlike wêreld te ondersoek. Sciëntisme is die filosofiese bewering dat hierdie metode die enigste weg na waarheid is. Ironies genoeg is daardie bewering self nie wetenskaplik bewysbaar nie. Dit is ‘n geloofsuitspraak. Hierdie onderskeid alleen klaar baie van die verwarring in ons kultuur op.

Sessie 2 — Die Geskiedenis wat Niemand Vertel Nie

Een van die hardnekkigste mites van ons tyd is die idee dat die Christelike geloof die vyand van wetenskaplike vooruitgang was. Die populêre narratief gaan so: Die Middeleeue was ‘n “donker tydperk” van bygeloof, totdat die Verligting en die wetenskap die kerk se mag gebreek het. Galileo is die held wat deur die kerk vervolg is omdat hy die waarheid gepraat het.

Die werklike geskiedenis is heeltemal anders, en baie meer interessant. Die Christelike leer van ‘n rasionele Skepper wat ‘n ordelike skepping gemaak het, het die intellektuele grondslag gelê vir die opkoms van die moderne wetenskap. Denkers soos Roger Bacon, Nicolaus Copernicus, Johannes Kepler, Robert Boyle en Isaac Newton het hulle wetenskaplike werk uitdruklik as ‘n manier verstaan om God se “tweede boek”, die natuur, te lees.

Die Galileo-verhaal verdien ‘n eerlike blik. Ja, daar was ‘n konflik, maar die werklikheid is ver meer genuanseerd as die populêre weergawe. Die kerk se posisie was deels wetenskaplik (die destydse wetenskap het Galileo nie eenduidig ondersteun nie), deels polities, deels teologies. ‘n Tragiese episode, maar nie ‘n oorlog tussen geloof en rede nie.

Historici soos Rodney Stark en James Hannam het oortuigend aangetoon dat die “oorlogsmite”, die idee dat geloof en wetenskap inherent in konflik is, self ‘n negentiende-eeuse uitvinding was. Nie ‘n historiese feit nie.

Sessie 3 — Die Heelal het ‘n Begin

In die twintigste eeu het die kosmologie een van die mees verrassende ontdekkings in die geskiedenis van die wetenskap gemaak: die heelal het ‘n begin gehad. Die oerknal (Big Bang) is nie maar ‘n teorie nie. Dit word deur verskeie onafhanklike bewyslyne ondersteun: die uitdying van die heelal, die kosmiese agtergrondstraling, die verspreiding van ligte elemente.

Wat beteken dit? As die heelal ‘n begin het, dan het dit ‘n oorsaak nodig. Hierdie eenvoudige insig lê aan die hart van die Kalam-kosmologiese argument, wat in ons tyd veral deur filosoof William Lane Craig ontwikkel is: Alles wat begin het om te bestaan, het ‘n oorsaak. Die heelal het begin om te bestaan. Dus het die heelal ‘n oorsaak.

Hoe werk hierdie argument? Watter besware word daarteen gemaak? En hoe pas dit in by die metafisiese fondament wat ons in Reeks 1 gelê het? Die heelal se begin is nie net ‘n wetenskaplike feit nie. Dit is ‘n venster na die diepste werklikheid.

Sessie 4 — Fyninstelling: Die Radikale Kontingensie van die Kosmos

Die wetenskap het nog ‘n verrassende ontdekking gemaak: die basiese konstantes van die fisika, die sterkte van swaartekrag, die massa van die elektron, die sterkte van die sterk kernkrag, en tientalle ander, is met haas onverstaanbare presisie “ingestel” op waardes wat lewe moontlik maak. Verander enige een van hierdie konstantes met ‘n fraksie van ‘n persent, en die heelal sou geen sterre, geen planete, geen lewe kon hê nie.

Die wiskundige fisikus Roger Penrose het bereken dat die spesifieke entropiewaarde by die oerknal ‘n waarskynlikheid van een in 10^(10^123) verteenwoordig. ‘n Getal so groot dat dit nie eens in die heelal neergeskryf kan word nie.

Wat beteken dit? In Reeks 1 het ons gesien dat die heelal kontingent is, dat dit nie sy eie bestaan kan verklaar nie. Die fyninstelling verdiep daardie kontingensie radikaal: die heelal is nie net kontingent in die feit dat dit bestaan nie, maar in sy spesifieke karakter. Die konstantes hoef nie hierdie waardes te hê nie. Die wette hoef nie hierdie vorm aan te neem nie. Hierdie radikale kontingensie roep na ‘n toereikende grond, ‘n noodsaaklike, rasionele Bron van wie hierdie spesifieke orde vloei. Ons ondersoek ook die gewilde multiversum-hipotese: is dit werklike wetenskap, of is dit ‘n metafisiese uitvlug?

Sessie 5 — Evolusie: Wat Staan Werklik op die Spel?

Geen wetenskaplike onderwerp veroorsaak meer spanning in kerke as evolusie nie. Des te meer rede om versigtig en eerlik daaroor te praat.

Die eerste stap is om te onderskei wat evolusie as wetenskaplike teorie werklik sê, en wat sommige mense daarby voeg as filosofiese interpretasie. Dat organismes oor tyd verander en dat natuurlike seleksie ‘n werklike meganisme is: dit is goed-gevestigde wetenskap. Maar dat hierdie proses ongeleid en doelloos is, dat dit geen intelligensie agter dit het nie, dit is nie ‘n wetenskaplike waarneming nie. Dit is ‘n metafisiese uitspraak.

Die Gereformeerde tradisie het hier ‘n ryk erfenis. Herman Bavinck het al in die vroeë twintigste eeu geskryf dat ons nie die feit van God se skepping moet verwar met die wyse waarop Hy geskep het nie. Die dat is ‘n geloofswaarheid; die hoe is ‘n wetenskaplike vraag. Alvin Plantinga het in ons tyd oortuigend aangetoon dat evolusie en teïsme logies volkome versoenbaar is, mits jy die ongeregverdigde metafisiese toevoeging van “ongeleid” laat vaar.

Ons sal nie voorgee dat alle gelowiges hieroor saamstem nie. Daar is eerlike, intelligente Christene wat op verskillende punte van die spektrum staan. Ons doel is nie om ‘n posisie af te dwing nie, maar om die werklike kwessies van die skynkwessies te onderskei.

Sessie 6 — Brein, Bewussyn en die Siel

Die neurowetenskappe het in die afgelope dekades groot vordering gemaak. Ons kan nou sien watter dele van die brein aktief word wanneer iemand dink, voel of besluit. Beteken dit dat die “siel” ‘n verouderde idee is? Dat ons niks meer as ons breine is nie?

Hier ontmoet ons een van die diepste probleme in die filosofie: die hard problem of consciousness, soos die filosoof David Chalmers dit genoem het. Ons kan in beginsel elke neuronale proses in die brein verklaar, maar dit verklaar nog nie hoekom daar ‘n bewuste ervaring is nie. Hoekom voel rooi soos rooi? Hoekom is daar “iets wat dit is om” jy te wees? Die fisiese wetenskap kan die brein as masjien beskryf. Dit kan nie verklaar hoekom daar ‘n innerlike wêreld van ervaring is nie.

C.S. Lewis het hierdie punt met kenmerkende helderheid gemaak: as ons denke niks meer is as die resultaat van chemiese prosesse in die brein nie, dan het ons geen rede om enigiets te glo nie. Insluitend die teorie dat ons denke niks meer as chemiese prosesse is. Die materialistiese siening van die verstand ondermyn homself.

Die Christelike verstaan van die mens as liggaam-en-siel eenheid, wat die Bybel van Genesis tot Openbaring leer, bied ‘n dieper en meer koherente verklaring as die verskraalde materialisme wat in ons kultuur domineer.

Sessie 7 — Naturalisme se Selfvernietiging

Hier trek ons die lyne saam. Die heersende filosofie agter baie moderne wetenskap is naturalisme: die oortuiging dat die natuur al is wat bestaan, dat daar niks bo of agter die fisiese wêreld is nie.

Die onderskeid wat hier saak maak: Metodologiese naturalisme, die benadering om in die laboratorium slegs na natuurlike oorsake te soek, is ‘n nuttige wetenskaplike werktuig. Metafisiese naturalisme, die filosofiese bewering dat die natuur werklik al is wat bestaan, is iets heel anders. Dit is nie ‘n wetenskaplike gevolgtrekking nie; dit is ‘n voorveronderstelling wat die wetenskap binnekom as vermomde filosofie.

En hier is die ironie: metafisiese naturalisme ondermyn die wetenskap self. As ons breine niks meer is as die produk van blinde, doellose evolusionêre prosesse nie, prosesse wat op oorlewing gerig is en nie op waarheid nie, dan het ons geen rede om te vertrou dat ons kognitiewe vermoëns ons na die waarheid lei nie. Dit is Alvin Plantinga se beroemde Evolutionary Argument Against Naturalism: naturalisme, gekombineer met onbegeleide evolusie, ondermyn die betroubaarheid van ons rasionele vermoëns. En daarmee ook die betroubaarheid van die wetenskap.

C.S. Lewis het dit reeds in 1947 in Miracles voorsien: “As naturalisme waar is, kan ons dit nie weet nie; want as naturalisme waar is, is ons denke slegs die resultaat van irrasionele oorsake, en dan het ons geen rede om dit te vertrou nie.” Die Christelike teïsme bied daarenteen ‘n robuuste grondslag vir wetenskaplike kennis: ons is geskep deur ‘n rasionele God na Sy beeld, met vermoëns wat gerig is op die ken van die werklikheid.

Sessie 8 — Twee Boeke, Een Outeur

Ons sluit die reeks af deur alles saam te bind. Die Nederlandse Geloofsbelydenis, Artikel 2, gee ons die sleutel:

NGB Artikel 2 – “Ons ken Hom deur twee middele. Ten eerste deur die skepping, onderhouding en regering van die hele wêreld. Dit is voor ons oë soos ‘n mooi boek waarin alle skepsele, groot en klein, die letters is wat ons die onsienlike dinge van God duidelik laat sien… Ten tweede maak Hy Hom nog duideliker en meer volkome aan ons bekend deur sy heilige en Goddelike Woord.”

Twee boeke. Een Outeur. Die boek van die natuur en die boek van die Skrif kan mekaar nooit werklik weerspreek nie, want hulle kom van dieselfde God van waarheid. Waar dit lyk asof hulle bots, is dit óns verstaan van die een of die ander (of beide) wat onvolledig is.

Hierdie laaste sessie word prakties: Hoe lees ‘n gelowige wetenskaplike navorsing? Hoe onderskei jy tussen data en interpretasie? Hoe reageer jy wanneer ‘n kind, ‘n student of ‘n kollega sê: “Maar die wetenskap het mos bewys dat…”? En hoe leef jy met ope vrae sonder om jou geloof of jou intellek prys te gee?

Die gees van ons gesprek

Voordat ons begin, is daar ‘n paar beginsels wat ons saam wil handhaaf.

Ons soek waarheid, nie oorwinning nie. Hierdie reeks is nie ‘n debat teen die wetenskap nie. Ons is nie hier om te “wen” nie. Ons is hier om te verstaan. Die waarheid is groot genoeg om alle eerlike vrae te verduur.

Ons is eerlik oor wat ons weet en wat ons nie weet nie. Daar is dinge waaroor die wetenskap duidelike antwoorde bied, en ons aanvaar dit met vreugde. Daar is dinge waaroor die wetenskap nog soek, en ons leef met daardie ope vrae in geduld. En daar is dinge wat buite die wetenskap se bereik val, vrae oor sin, doel, skoonheid, liefde en God, en ons erken dit sonder skaamte.

Ons respekteer die wetenskap sonder om dit te vergoddelik. Die wetenskap is ‘n gawe, ‘n instrument waardeur ons iets van God se skepping kan ontrafel. Maar dit is ‘n instrument, nie ‘n god nie. Om die wetenskap tot finale arbiter van alle waarheid te verhef, is om dit te oortaak met iets wat dit nie kan dra nie.

Ons dink saam as gemeente. Ons is nie elkeen op ons eie nie. Ons stap hierdie pad saam, in die lig van die Skrif, gelei deur die Heilige Gees, in die gemeenskap van gelowiges wat vir eeue voor ons dieselfde vrae gevra het. Ons dra mekaar se vrae, en ons verdra mekaar se onsekerheid.

Ons lees die natuur deur die bril van die Skrif. Die Nederlandse Geloofsbelydenis (Artikel 2) bely dat ons God deur twee middele ken, die skepping en die Skrif, maar dit voeg ‘n veelseggende woordjie by: die Skrif maak Hom aan ons “nog duideliker en meer volkome” bekend. Daar is ‘n rangorde. Calvyn het dit met ‘n treffende beeld verduidelik: sondige mense het die Skrif nodig soos ‘n bejaarde mens ‘n bril nodig het om te kan lees (Institusie I.6.1). Die skepping is vol van God se heerlikheid, maar ons gevalle oë lees dit verkeerd. Ons sien die letters, maar ons mis die sin. Die Skrif is die bril wat ons oë skerp stel, sodat ons die boek van die natuur reg kan lees. Die skepping is God se eerste boek, maar dit is die Skrif wat ons leer hoe om daardie boek te lees. Dit verminder nie die waarde van wetenskaplike ondersoek nie. Inteendeel, dit gee aan die wetenskap sy regte plek binne ‘n groter raamwerk van waarheid. Ons verwelkom elke eerlike ontdekking, want alle waarheid is God se waarheid. Maar ons weet ook: dit is die Woord wat die laaste lig werp.

Wie gaan ons ontmoet?

Soos in Reeks 1 sal ons op hierdie reis ‘n ryk verskeidenheid denkers ontmoet. Sommige is gelowiges, sommige nie; almal het iets vir ons te leer.

Aan die wetenskapsfilosofiese kant luister ons na Karl Popper (die meester van weerlegbaarheid), Thomas Kuhn (paradigmaskuiwe) en Michael Polanyi (persoonlike kennis). Aan die kosmologiese kant ontmoet ons William Lane Craig (die Kalam-argument), Roger Penrose (die fyninstelling) en Alexander Vilenkin (die begin van die heelal). Oor bewussyn en die verstand praat ons met David Chalmers (die harde probleem), Thomas Nagel (die grenslyne van materialisme) en C.S. Lewis (die selfweerlegging van naturalisme).

Dwarsdeur die reeks loop die stemme van die Gereformeerde tradisie: Herman Bavinck, wat met soveel wysheid oor natuur en genade geskryf het; Abraham Kuyper, wat ons herinner het dat elke vierkante duim van die skepping aan Christus behoort; Alvin Plantinga, wat as filosoof aangetoon het dat die Christelike geloof rasioneel ten volle verantwoord is; en die groot belydenisskrifte wat ons koers hou.

‘n Uitnodiging

Hierdie reeks is ‘n uitnodiging om te ontdek dat die geloof nie bang hoef te wees vir die wetenskap nie, en dat die wetenskap, eerlik beoefen, ons telkens weer terugbring na verwondering. Verwondering oor ‘n heelal wat ‘n begin het, wat fyngestel is vir lewe, wat bewuste wesens voortgebring het wat kan dink en vra en aanbid.

Die Psalmdigter het dit lank voor die moderne wetenskap geweet:

Psalm 19:2-3 – “Die hemele vertel die eer van God, en die uitspansel verkondig die werk van sy hande. Dag na dag bring ‘n boodskap voort, en nag na nag deel kennis mee.” (1953-vertaling)

Kom ons luister saam. Na die wetenskap, na die Skrif, en na die God wat deur albei praat.

Bring jou vrae en jou nuuskierigheid. Alle waarheid is God se waarheid.

© Attie Retief, 2025