1. Waar begin ons?
Die Christen se vertrekpunt is die openbaring van die Drie-enige God in die Bybel. Die “wat” hiervan kan opgesom word as Skepping, Sondeval en Verlossing, soos verwoord in die Apostoliese Geloofsbelydenis. “Hoe” ons in ons lewe daarmee omgaan is in die liefdesgebod saamgevat. Jesus antwoord in Matheus 22:37-40 die vraag van ‘n Fariseër so:
“Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou siel en met jou verstand. Dit is die grootste en eerste gebod. En die tweede, wat hiermee gelyk staan, is: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. In hierdie twee gebooie is die hele wet en die profete saamgevat.”
Hoekom het ons dan ’n gesprek soos hierdie nodig? Sê die Bybel nie vir ons alles wat ons moet weet nie? Die kort antwoord is dat die Bybel vir ons alles sê wat nodig is om ons eie gebrokenheid en sondige natuur te verstaan. Die almag en genade van God, ons verlossing en ons verhouding met Hom word duidelik uiteengesit.
Die Bybel is egter nie ‘n wetenskaplike en alledaagse lewenshandboek nie. Die skrywers en die eerste lesers was mense in ‘n antieke wêreld wat die taal, terminologie en uitdrukkings van daardie tyd gebruik het. Die wêreld het sedertdien op baie terreine verder ontwikkel en daar het nuwe begrippe en denke ontstaan, asook wetenskaplike vooruitgang, ontdekkings en lewensstyle. Dit is dinge wat ons vandag in die lig van Bybelse beginsels moet oorweeg en interpreteer.