8. Christelike apologetiek
Die begrip apologetiek kan beskryf word as die verduideliking of regverdiging van ‘n bepaalde siening of leerstelling. Die doel van Christelike apologetiek is om Christene toe te rus om verantwoording te kan doen oor wat hulle glo, veral teenoor die wêreld maar ook teenoor hulle eie twyfelgedagtes.
Dit rus gelowiges toe om aan skeptici te kan demonstreer dat die Christelike geloof nie ‘n fantasiesprong is nie, en om soekendes uit te nooi om die aansprake van die geloof deeglik te oorweeg.
In 1 Petrus 3:15b-16a lees ons:
“Wees altyd gereed om ’n antwoord te gee aan elkeen wat van julle ’n verduideliking eis oor die hoop wat in julle lewe. Maar doen dit met beskeidenheid en met eerbied vir God.”
Is apologetiek ‘n onderdeel van die Christelike geloof? Die verskillende apologetiese argumente is nie opsigself noodsaaklik vir die Christelike geloof nie. Maar dit speel ‘n produktiewe rol in geloofsgesprekke en is geneig om geloofsversterkend te werk, veral wanneer mens deur die wêreld uitgedaag word. Dit help om die logiese gapings in argumente ten gunste van ongeloof te identifiseer.
Die webblaaie ratiochristi.co.za en antwoord.org.za bevat baie artikels wat verskeie aspekte van die Christelike geloof verduidelik en verdedig. Gaan kyk gerus daarna.