Geloof - is dit aanvaarding of denke, is dit die hart of die verstand?

— deur Douw Kruger

5. Geloof - is dit aanvaarding of denke, is dit die hart of die verstand?

Ons ontvang die geloof deur die werking van die Heilige Gees. Die geloof berus op twee komponente. Die een is kennis en logika, waar ek dit wat in die Woord van God geopenbaar word en wat ek in die wêreld om my sien, verwerk en verstaan. Die ander komponent is die vertroue en aanvaarding dat dit wat in die Woord staan, waar en seker en lotsbepalend is. (Johannes 20:30, Markus 1:15)

Dit klink asof die bestaan van God nie bewys kan word nie. Ek moet dit net aanvaar, of hoe? Die bestaan van die Drie-enige God van die Bybel (of enige ander god) kan nie bewys word soos wat ‘n mens kan bewys dat 3 x 4 = 12 nie. Maar net so kan die ateïs ook nie bewys dat God nie bestaan nie. Die stelling dat daar nie ‘n God is nie, het dus ook ‘n “geloofsbasis”.

Daar is sterk getuienis en rasionele argumente wat die bestaan van God ondersteun. Nie net as Skepper nie, maar as Drie-enige God. Later meer hieroor.

Die Christen-gelowige glo en aanvaar eerstens dat God homself en sy Genade in sy Woord aan ons openbaar het en dit moet vir ons in hierdie lewe genoeg wees. Wanneer ons eendag in sy teenwoordigheid is, het die geloof soos wat ons dit vandag verstaan, sy doel gedien. Later meer hieroor (Punt 14 en 15).


© Attie Retief, 2025