12. Is daar in die Bybel ‘n duidelike reël vir elke probleem wat mag opduik?
Ons lewe in ‘n gebroke wêreld en het onvoldoende kennis en insig in die kompleksiteit van die wêreld - m.a.w. die natuur en die samelewing.
Die Bybel leer dit vir ons in 1 Korinthiërs 13:12:
“Want nou sien ons deur ‘n spieël in ‘n raaisel, maar eendag van aangesig tot aangesig.”
Daar is situasies wat as grys areas opduik. Kwessies waar die antwoorde nie klinkklaar is nie. Die res van 1 Korinthiërs 13 wys egter vir ons die rigting aan. Die eerste agt verse brei uit oor die aard en die krag van die liefde. Die laaste vers, vers 13, maak dit duidelik hoe krities belangrik die liefde is.
Die les hieruit te leer is, as ons kennis en insig nie vir ons duidelike antwoorde gee nie, dan moet ons biddend dit doen wat die liefde van ons vra - dit wat in die beste belang van almal betrokke en tot eer van God is (Matheus 22:37-40).
In die baie bekende Matheus 5:38-48 beskryf Jesus hoever die naasteliefde werklik moet strek. Draai die ander wang en stap die ekstra myl. Hierdie beginsels het soveel waarde in die praktyk dat dit selfs in ‘n sekulêre wêreld inhoud gee aan die sielkundige fondament van konflikbeslegting. Plaas jouself in die ander persoon se skoene - dan eers verstaan jy sy emosies en motiewe. ‘n Opregte verskoning berei die grond voor vir versoening. En die heel belangrikste reël is, soek saam na ‘n oplossing wat in almal se belang is.
Maar alle probleme het nie altyd maklike antwoorde nie. Soms moet ons wroeg oor ‘n besluit. Dit mag nodig wees om in situasies waar ons nie die lig sien nie, die saak biddend aan God oor te laat en te vertrou dat Hy dit op sy tyd en sy wyse sal aanspreek. Jesaja 49:8:
“…Op ‘n tyd wat Ek goeddink sal ek jou gebede verhoor, op die dag wat ek wil red, sal Ek jou help.”
Om oor na te dink:
Watter probleme het vir jou nie ‘n duidelike antwoord nie? Wat van genadedood, die beëindiging van ‘n swangerskap wat risiko’s vir moeder en kind inhou? Wat dink ons van transgender kwessies? Is daar altyd klinkklare antwoorde? Beteken die lering van Jesus in Matheus 5:37-48 dat ek myself altyd moet opoffer? Waar trek ek die streep? Is dit nie dalk so dat as ek te opofferend is ek die ander persoon se wangedrag bevorder en uiteindelik daardeur ander mense ook benadeel nie? Vandag is voorbehoeding die norm, maar in die middel van die vorige eeu is dit as onchristelik beskou. Wat sou die beredenering hieragter gewees het? Hoe hanteer ons ‘n situasie waar ‘n kind of ander geliefde keuses maak waarmee ons ‘n beginselprobleem het? Verstaan ons dat ons nie alles kan beheer nie? Verstaan ons dat die liefde behoue moet bly en dat daar sake is wat ons in die hande van die Here moet laat? En dat ons moet nadink oor wat die Here moontlik vir ons daardeur wil leer. Dinge soos nederigheid, afhanklikheid van Hom, ‘n dieper empatie met ons naaste en sulke dinge.