Gesprek tussen gelowige en ongelowige

— deur Douw Kruger

10. Gesprek tussen gelowige en ongelowige

Baie mense kan getuig van ‘n vriend of familielid wat gelowig grootgeword het en na baie jare as aktiewe kerklidmaat die kerk en geloof verlaat het. “Ek het met hom daaroor probeer praat, maar die gesprek vorder nie. Nie eens die argumente van bekende teoloë en Christen-apologete het hom oortuig nie. Hy het ook baie opgelees oor geloofsake en kon my soms in ‘n hoek druk.”

Dit is ‘n voorbeeld van hoe die bestemming wat vir mens wink jou denke kan oorheers.

Is daar ‘n beproefde manier om iemand wat ‘n besluit ten gunste van ongeloof geneem het, weer te bekeer? So ‘n persoon het dikwels al baie nagedink, wyd gelees en het al die argumente gehoor en oorweeg. Maar die ongeloofsbestemming het harder geroep en hy het daarna geluister. Dit is nie ‘n eenvoudige situasie nie.

Om oor na te dink:
Dit is die Christen se plig om die evangelie uit te dra. As ‘n persoon naby aan jou al alles deurdink het en ‘n duidelike wilsbesluit ten gunste van ongeloof geneem het, dan is die mees sinvolle optrede meestal om te sorg dat die verhouding met die persoon behoue bly en om beskikbaar te wees vir ‘n geloofsgesprek. Eerder as om so op te tree dat die ander persoon die verhouding verbreek. Dis nie altyd maklik nie. Maar ons moet verstaan dat ons instrumente van die Heilige Gees is. Ons moet ons plig doen, maar dit is die Gees wat die harte van mense verander. Daarvoor moet ons voortdurend bid.


© Attie Retief, 2025