7. Kerkbesoek en godsdiensbeoefening
Godsdienstigheid en ‘n aktiewe geloofslewe het ‘n verband en ‘n interaksie met mekaar, maar dit is nie dieselfde nie. ‘n Mens kan gereeld kerk besoek en bid voor ete maar nie ‘n werklik aktiewe geloofslewe hê nie. ‘n Aktiewe geloofslewe kan beskryf word as die beoefening van ‘n bewuste, daaglikse of deurlopende geloofsverhouding met God. Om Hom daagliks opreg en met oortuiging te aanbid, te loof en te dank vir sy almag en genade. Om voortdurend van hierdie verhouding bewus te wees - nie net per geleentheid nie. En net so belangrik, om met liefde met die wêreld om te gaan.
Die vraag is nou, kan ‘n mens in ‘n werklike geloofsverhouding met God staan as jy jouself van die kerk, die geloofsgemeenskap, losmaak? Die antwoord wat mens soms hoor is dat die persoon op sy eie, daar in die natuur, die wonder van die Skepping opnuut besef en sy geloof daardeur verryk. ‘n Kort antwoord daarop is dat as dit die wese van jou geloofslewe is, dan is dit ‘n soort spirituele ervaring wat spruit uit dit wat vir jou fisies aantreklik is en jou goed laat voel.
Daar is niks verkeerd met aanbidding in die natuur of in ‘n inspirerende omgewing nie. Die probleem kom wanneer dit ‘n plaasvervanger raak vir die geloofsgemeenskap en as die natuur of die omgewing die fokuspunt raak. Die Bybel maak dit op verskeie plekke, maar veral in die sendbriewe, duidelik dat die verhouding met Christus nie bloot tussen Hom en individue bestaan nie, maar ook tussen Hom en die kudde - die geloofsgemeenskap. En dit is net so duidelik oor die rol wat gelowiges teenoor mekaar het.
Efesiërs 5:25-27 is baie bekend:
“Mans julle moet julle vrouens liefhê soos Christus die kerk liefgehad het en sy lewe daarvoor afgelê het. Dit het hy gedoen om die kerk aan God te wy, nadat Hy dit met die water en die woord gereinig het, sodat Hy die kerk in volle heerlikheid by Hom kan neem, sonder vlek of rimpel of iets dergeliks, heilig en onberispelik.”
Joh 10:11:
“Ek is die goeie herder. Die goeie herder lê sy lewe af vir die skape.”
Handelinge 20:28:
“Pas julleself op en die hele kudde wat die Heilige Gees onder julle sorg gestel het. Soos wagters ‘n kudde versorg, so moet julle die gemeente van God versorg wat hy vir hom verkry het deur die bloed van sy eie Seun.”
Ons moet ook oor die rol van die kerkgebou nadink. Dit is ‘n plek van samekoms, maar dit gaan nie primêr oor die plek nie. Die gemeente, die geloofsgemeenskap, kan op enige geskikte plek vergader. Dit maak nie die kerkgebou onbelangrik nie, maar dit is nie ‘n kritiese komponent van die geloofsgemeenskap nie. Die waarde van ‘n kerkgebou lê daarin dat dit spesifiek vir samekomste en aanbidding ingerig is en dit speel ‘n belangrike, praktiese rol in die lewe van die geloofsgemeenskap. Dit kan ‘n samebindende en selfs inspirerende faktor wees, maar dit is nie self ‘n element van die geloof nie en dit moet veral nie ‘n voorwerp van aanbidding word nie.
Om oor na te dink:
Besef jy wat jou voorbeeld aan die geloofslewe van jou kinders en familie kan doen as jy jouself van die geloofsgemeenskap vervreem? Dalk ‘n moeiliker vraag: Gaan die kerkgemeenskap in die rigting van ‘n eKerk of ‘n eGemeenskap neig, soos wat besighede in ander gemeenskappe doen? Kan die geloofsgemeenskap produktief funksioneer as eKerk, vandag of oor 30 jaar?