2. Die Bybel
Die gesag vir ons geloof vind ons in die Bybel. Die Bybel is nie ‘n boek wat ‘n mens een of twee keer kan lees en dan wegsit nie. Gelowiges wat lewenslank met die Bybel saamkom, getuig dat Bybelstudie elke dag en regdeur ‘n mens se lewe openbarend, geloofsverrykend en ondersteunend werk. Aan die ander kant weet ons ook dat iemand wat nie meer voortdurend met die Bybel omgaan nie, se geloofslewe kwyn en kan vergaan. Dit is iets om oor diep na te dink.
Die aard en kompleksiteit van die Bybel beteken ook dat ‘n mens dit nie regtig in ‘n kort opsomming kan aanbied nie. Die skets en uiteensetting hieronder probeer ook slegs perspektief gee oor die wese en samestelling daarvan.
Die Bybel se tydlyn:
- Skepping: Die lewe in die Paradys, in harmonie met God, met mekaar en met die wêreld
- Sondeval: Die sondige mens in ‘n gebroke wêreld, met wie God ‘n verbond sluit
- Die koms van Christus: ‘n Nuwe eeu begin vir die wat in Jesus Christus glo
- Die wederkoms van Christus: Die Ewige Lewe op ‘n Nuwe Aarde
Die stryd met die wêreld duur voort.
Ou Testament
Die Ou Testament kan soos volg ingedeel word: Die Pentateug, ook bekend as die Boeke van Moses, is die eerste vyf boeke, van Genesis tot Deuteronomium. Dit vertel die verhaal van die skepping van die wêreld tot die dood van Moses en die Israeliete se voorbereiding om die land Kanaän in te gaan. Dit word in drie dele vertel:
- Die eerste deel (Gen. 1-11) gaan oor die Skepping, die Sondeval en die begin van die lewe van die mensdom buite die tuin van Eden. Die stryd tussen Goed en Kwaad word na die Sondeval voortgesit - Kaïn en Abel en die ongehoorsaamheid van die mense wat eers tot die Sondvloed lei en daarna tot die spraakverwarring by Babel.
- Die tweede deel (Genesis 12-50) handel oor die Israeliete se voorsate, hoofsaaklik Abraham, Isak, Jakob en Josef. Dit beskryf die verbond wat God met Abraham sluit en die lewe van sy nasate in Egipte waar hulle tot ‘n afsonderlike volk groei.
- Die derde deel, wat met die boek van Eksodus begin, beskryf die uittog uit Egipte en die vroeë geskiedenis van Israel as ‘n volk onderweg na die beloofde land. Dit bevat verskeie wette oor hoe die Israeliete hulle samelewing moet reël en bou. Deuteronomium is hoofsaaklik Moses se finale toespraak aan die volk waarin hy die liefde van God vir sy verbondsvolk beklemtoon.
Die elf boeke van Josua tot by Nehemia word soms die Geskiedenisboeke van die Ou Testament genoem. Dit deel met ons die geskiedenis van Israel tydens en na die intog in Kanaän en hulle stryd met die volke van Kanaän. Die geweld en menslike lyding wat hier beskryf word, lei steeds vanuit ongelowige kringe tot die bevraagtekening van die bestaan van ‘n liefdevolle God. En dit is nie iets wat met die eerste oogopslag maklik verstaan word nie. Later volg meer hieroor.
Die volgende vyf boeke, Psalms tot by Hooglied van Salomo, staan ook bekend as die sogenaamde Leerboeke van die Ou Testament. Hierdie boeke fokus op die verhouding tussen mens en God en mense met mekaar.
Die res van die Ou Testament word die Profetiese boeke genoem. Soos die naam aandui, handel dit oor die leringe van bepaalde persone nadat hulle openbarings van God ontvang het. Dit begin met Jesaja en eindig met Maleagi. Die eerste vyf boeke van Jesaja tot by Daniël staan bekend as die boeke van die groot profete. Die res is die boeke van die klein profete en hulle is meestal kort en fokus op enkele profesieë.
Die Ou Testament word deesdae in sommige kringe ondergeskik gestel aan die Nuwe Testament. Christus het inderdaad ook die profesieë van die Ou Testament vervul. Dit is egter nie moontlik om ‘n volledige begrip van die Nuwe Testament te ontwikkel sonder ‘n deeglike kennis van die Ou Testament nie.
Die Ou Testament openbaar vir ons die gebrokenheid van die lewe en die wêreld na die Sondeval, maar sê ook dat God in beheer is en wys op die koms van die Verlosser. En in die Nuwe Testament word daar telkens na die Ou Testament terugverwys.
Nuwe Testament
Die Nuwe Testament beskryf die geboorte, lewe, sterwe, opstanding en hemelvaart van Christus en die betekenis daarvan vir die wêreld. Dit kan in drie dele verdeel word:
- Eerstens die vier Evangelies wat die lewe van Christus op aarde beskryf en Handelinge wat gaan oor die werk van die eerste Christene. Handelinge vertel van die weerstand wat die apostels ervaar, van Saulus se vervolging van Christene, sy bekering en sy besondere werk as geroepene onder die naam Paulus.
- Dan volg die Briewe wat die apostels aan gemeentes en individue regdeur die Romeinse Ryk geskryf het om die aanvanklike leringe op te volg en aspekte van die geloofslewe te beklemtoon. Die dwaalleringe wat ontstaan word pertinent aangespreek.
- Die laaste boek is die Openbaring aan Johannes. Dit beskryf die openbarings aan hom oor die eindtyd en die Nuwe Jerusalem. Dit is in simboliese taal geskryf en moet verstaan word in die lig van die kernboodskap dat daar na ‘n tydperk van lyding en beproewing ‘n ewige lewe van saligheid by die Drie-enige God op die verloste mense wag.
Die wêreld bly gebroke na die koms en kruisiging van Christus, maar vir die gelowige Christen het daar ‘n nuwe tydperk aangebreek. ‘n Tydperk van ‘n voortgesette stryd tussen verloste mense en die wêreld, maar ook ‘n tyd van vooruitkyk na die Wederkoms van Christus wanneer die wêreld vernuwe sal word en die stryd vir altyd agtergelaat word. In sy Bergrede (Matheus 5-7) vat Jesus dit volledig saam.