11. Kerk, Geloof en Samelewing
Is mense wat aan ‘n kerk behoort beter mense as dié wat nie aan ‘n kerk behoort nie? Is ‘n gelowige sakeman ‘n beter sakeman as ‘n ongelowige persoon?
Enige persoon, gelowig of ongelowig, kan ‘n goeie sosiale gewete hê, sy werk goed doen en goed wees vir diegene wat op sy pad kom. Geloof en kerklidmaatskap is opsigself ook nie ‘n waarborg vir goeie gedrag nie. Daar is baie voorbeelde deur die eeue van wangedrag deur kerke en kerklidmate. Dit was meestal omdat hulle geloofslewe ondergeskik geraak het aan wêreldse voorkeure en ideologieë.
Gelowiges is nie volmaak nie. Hulle maak foute en kan ook verlei word. Die essensie van die lewe van ‘n gelowige behoort te wees dat hy elke dag aan sy verhouding met die Here moet werk en daarmee saam gehoorsaam moet wees aan die volledige liefdesgebod. Hy moet sy medemens behandel soos wat hyself behandel wil word.
Om oor na te dink:
Watter voorbeelde is daar van godsdienstige gemeenskappe wat liefdeloos, gewelddadig of moorddadig teenoor ander opgetree het? Wat was die dryfveer en hoe is dit geregverdig? Leef onsself die liefdesgebod volledig uit? Of fokus ons net op aanbidding? Is ons bereid om ons eie geloofsgemeenskap/kerk krities te ondersoek?