Hoe loop die pad na geloof … of na ongeloof?

— deur Douw Kruger

9. Hoe loop die pad na geloof … of na ongeloof?

Dit volg nie vir almal dieselfde roete nie. En al die argumente, debatte en inligting het nie dieselfde uitwerking op almal nie. Paulus (Saulus) het voor sy bekering waarskynlik reeds al die getuienis oor Jesus se koms na die aarde gehoor. Tog het hy dit nie aanvaar nie en het hy die Christene probeer uitroei.

Handelinge 9:1 sê:

“Intussen het Saulus soos ‘n besetene voortgegaan om die volgelinge van die Here met die dood te dreig.”

Hy het die moord op Stefanus deur die Joodse Raad goedgekeur. Maar tydens ‘n reis na Damaskus om nog meer Christene gevange te laat neem, is hy deur ‘n openbaring van Jesus Christus gekonfronteer en daarna met die Heilige Gees vervul.

Vir ander mense volg die reis na ’n ware en aktiewe geloofslewe ‘n ander roete. Net so met die reis na ongeloof. Daar is heelwat voorbeelde van bekende mense in die kerkgemeenskap, ook predikante, wat na ‘n lang periode van groeiende twyfel ‘n bestemming van ongeloof bereik het, of bloot onverskillig oor geloof geraak het.

Die dryfkrag van ‘n reis na ongeloof is nie eerstens argumente vir of teen die geloof nie. Dit is eerder die bestemming wat vir die persoon wink - ‘n geloofsbestemming of ‘n ongeloofsbestemming. Soos wat ‘n mens meer van daardie bestemming bewus word, leun jy oor na die getuienis en argumente wat dit steun.

Die gesag van logiese denke in plaas van aanvaarding is ‘n kernkomponent van die argumente van ongelowiges en veral van ateïste. Maar daar is baie voorbeelde van ongelowiges wat inkonsekwent en onlogies te werk gaan as hulle oor geloofskwessies praat. Dit is eintlik opvallend. Hulle fokus egter so sterk op die ongeloofsbestemming dat dit hulle denke oorheers.

Die twee aspekte wat gelowiges kan verlei is eerstens die argument dat daar geen bewys van ‘n Skeppergod is nie en tweedens die onversoenbaarheid van ‘n liefdevolle God met die wreedheid en lyding wat deur die geskiedenis plaasgevind het.

Aan die ander kant is daar gelowiges wat dalk nie die ingesteldheid of die vermoë het om al die logiese beredenerings rondom geloof te verstaan en te verwerk nie, maar vir wie die geloofsbestemming, vertroue en aanvaarding opsigself genoeg is.

Dit toon duidelik vir ons dat ‘n geloofsreis futiel is as dit sonder gebed, genade en die werking van die Heilige Gees plaasvind.


© Attie Retief, 2025