Ideologieë

— deur Douw Kruger

13. Ideologieë

‘n Ideologie kan ligweg beskryf word as ‘n stel voorkeure en denkwyses, hoofsaaklik op ekonomiese, kulturele, politieke en religieuse gebied. Ideologieë is geneig om denke te oorheers en hulle eie beginsels te ontwikkel. Dit voorsien mettertyd die riglyne vir die aanhangers se lewe. Voorbeelde is sosialisme, kapitalisme, nasionalisme, patriotisme, liberalisme en marxisme. Daar is ook oorvleueling tussen sekere ideologieë. Patriotisme en nasionalisme loop byvoorbeeld dikwels hand aan hand. Maar dit is ‘n komplekse onderwerp. Mense se uitsprake word soms oorinterpreteer en dan word hulle te maklik as aanhangers van ‘n ideologie bestempel.

Iemand wat aan ‘n vryemarkstelsel glo is nie noodwendig ‘n kapitalis nie. ‘n Kapitalis is eerder iemand wat glo aan ‘n survival-of-the-fittest ekonomie, met geen of absolute minimum staatsinmenging en met die ruimte om vir sy eie gewin alle kompetisie uit die weg te probeer ruim. Eiebelang staan voorop.

Net so ‘n persoon wat lief is vir sy land. Hy is nie noodwendig ‘n aanhanger van patriotisme nie. Patriotisme is ‘n oordrewe weergawe van vaderlandsliefde waar die vaderland verabsoluteer word en dit van ander mense verwag word om dieselfde waarde daaraan te heg.

Politieke kommentators word soms as kommuniste, liberaliste of nasionaliste uitgekryt bloot omdat hulle bepaalde standpunte kritiseer of ondersteun.

Is ideologieë onchristelik?
‘n Ware ideologie se beginsels en denkwyses kan nie maklik aan Bybelse riglyne voldoen nie. Daarom is die antwoord, “ja, waarskynlik”. Maar dit is makliker om sekere ideologieë as onchristelik uit te ken as ander. Die moeiliker gevalle is waar ‘n ideologie hom tot ‘n mate in die gelowige gemeenskap kom tuismaak het. Die Bybelse beginsel wat ons in ‘n wêreldse omgewing moet nastreef is om in harmonie met mekaar en die wêreld te leef. Om bewus te wees van die balk in die eie oog. As ons spesifieke wêreldse sienings verhef en verabsoluteer dan neig dit na eiebelang en skade aan die belange van ander en dit beïnvloed ons gesindheid teenoor ander.

Om oor na te dink:
Kies ‘n ideologie en beskryf sy eienskappe. In wie se belang is dit? Kan ‘n gelowige daardeur op ‘n dwaalspoor verlei word? Is daar ‘n verskil tussen onmin tussen volke en onmin tussen individue? Kan ‘n persoon se liefde vir sy volk ooit verskonend of versagtend werk? Hoe verklaar ons dit dat iemand wat in sy onmiddelike omgewing na ander uitreik en baie goed doen, maar nie wroeg oor die skade en geweld wat een groep mense teenoor ‘n ander pleeg nie? Byvoorbeeld oorlogsituasies waar die ander party se mense, burgerlikes inkluis, gedood en hulle lewens verwoes word. En wat sê ons vandag van slawerny?


© Attie Retief, 2025