14. Fundamentalisme
Sekere kerke, gelowe en opvattings word soms as fundamentalisties beskryf. Wat beteken dit en waar lê die probleem?
Fundamentalisme is nie ‘n selfstandinge ideologie nie, eerder ‘n ingesteldheid oor die interpretasie van beginsels en reëls. Die term word dikwels gebruik om godsdienstiges (enige geloof) te etiketteer wanneer hulle ‘n rigiede, ongenuanseerde en letterlike interpretasie van hulle geloofsbronne nastreef. Die term word ook gebruik om die rigiede aanhang van ander dogmas en ideologieë te beskryf.
’n Bietjie anders gestel: ‘n (Geloofs)beginsel word bv. in isolasie geïnterpreteer en daaromheen ontwikkel dan reëls en formaliteite wat self beginsels word, wat letterlik nagestreef word en die risiko inhou dat die werklike saak waaroor dit gaan afgeskeep kan word. Bysaak word verhef tot hoofsaak of daaraan gelykgestel. Perspektief verdwyn. Fundamentalisme was deur die jare ‘n groot bron van tweespalt in gemeenskappe en kerke.
Geloof en kerk word vanuit sommige ongeloofskringe per definisie as fundamentalisties beskou, onder andere op grond van wat hulle noem die gelowiges se “verdoemenis van almal wat nie soos hulle glo nie”.
Jesus het die sakrament van die nagmaal ingestel deur kort voor sy kruisiging saam met sy dissipels in ‘n bovertrek aan die tafel te sit en die pasga te vier. Die gebruik in daardie tyd was dat die brood aan tafel gebreek word en dat wyn om die beurt uit ‘n beker gedrink word. Jesus het na die wyn verwys as sy bloed en na die brood as sy liggaam en die opdrag gegee dat daar voortaan wyn gedrink en brood geëet moet word tot sy gedagtenis.
Die essensie van die nagmaal gaan om die eet van die brood en die drink van die wyn ter nagedagtenis aan die kruisiging. Dit gaan nie om die bovertrek, die tafel of die tipe houer waarin die brood of die wyn is nie. Tradisie en gebruike deur die eeue het egter die plek (tafel) en die wyse waarop die wyn gedrink word (uit dieselfde beker of uit ‘n beker) ‘n eie waarde gegee en ‘n essensiële deel van die nagmaalviering gemaak. ‘n Benadering wat ‘n tyd lank taamlik roeringe in die kerk veroorsaak het.
‘n Ander voorbeeld gaan oor kleredrag. Die beginsel van respek en toewyding wanneer ons in die naam van die Here vergader is uitgebrei en spesifieke kleredragreëls het ontstaan. Vyftig jaar gelede was ‘n baadjie en das “verpligte” kerkdrag vir mans. Ook by kerkraadsvergaderings is pakke klere gedra. Vrouens het hoede, rokke en sykouse aangetrek kerk toe - langbroeke was taboe. Kinders het selfs kerkklere aangehad by die jaarlikse katkisasie-piekniek. Kulturele gebruike rondom die begrippe netjies en gepas is dus self verhef tot beginsels, ook nadat die kulturele gebruike verander het.
Om oor na te dink:
Het styl en gebruike dan geen waarde in die kerk nie? Wat is die kruks van die saak? Sê die klemverskuiwing vanaf wettiese reëls en gebruike (Ou Testament) na die liefdesgebod (Nuwe Testament) dalk vir ons iets in hierdie verband?