Geloof en Wetenskap

— deur Douw Kruger

15. Geloof en Wetenskap

Ongelowiges stel geloof en wetenskap meestal teenoor mekaar, met ander woorde onversoenbaar. In hulle oë gaan geloof oor aannames en mites, terwyl wetenskap oor die logiese bewys van dinge gaan.

Gelowiges ontken glad nie die rol van logika nie. Dit word ook nie onderbeklemtoon nie. Inteendeel, logika is ‘n inherente komponent van ‘n wêreld wat ordelik geskape is. God het die wêreld wetmatig geskape. Dit is onderworpe aan reëls wat in logiese verband met mekaar in die natuur opereer. Die Bybel is baie duidelik daaroor. Die volgorde waarin die wêreld geskape is, maak hierdie wetmatigheid duidelik - Genesis 1.

Die aansprake op die wonderwerke van God word soms gebruik as argument dat die Bybel en geloof teenoor die wetenskap staan. Maar dit is baie ver van die waarheid. Die normale gang van sake is juis dat die wêreld deur die natuurkragte wat God geskep het, onderhou word. God gebruik wonderwerke om in die verloop van sake in te gryp en so sy almag te openbaar. As die werking van natuurwette nie die normale gang van sake bepaal en voorgestel het nie, sou wonderwerke nie kon plaasvind nie. Die vernaamste wonderwerk was die Skepping self waardeur die wêreld en die natuurwette ontstaan het.

Dit is ook moontlik dat bepaalde wonderwerke in die Bybel mettertyd deur die wetenskap verklaar kan word. Toe dit plaasgevind het, sou mense nie so ‘n verklaring verstaan het nie en het dit dus as ‘n wonderwerk ervaar. In so ‘n geval is die natuur juis op daardie stadium deur God ingespan om die mens te laat besef dat Hy in beheer is en die gang van sake bepaal. Hoe hierdie dinge gebeur het, sal ons eers later werklik weet.

Maar dat die wêreld ordelik (wetmatig) geskape is deur ‘n Skepper wat buite die wêreld en die natuurwette staan, is ‘n kernkomponent van die Christelike geloof. Die Skepper is nie self aan die natuurwette onderhewig nie en kan dit verander of ophef, tydelik of permanent.

Ons vind ‘n grondige uiteensetting van die wetmatige funksionering van stof, plant, dier en mens in die Wysbegeerte van die Wetsidee van die Nederlandse Calvinistiese filosoof, Herman Dooyeweerd.


© Attie Retief, 2025