Sondag 10

Sondag 10

Vraag 27: Wat verstaan jy onder die voorsienigheid van God?
Antwoord:
Die almagtige en oralteenwoordige krag van God¹,
deur welke Hy hemel en aarde met al die skepsels soos met sy hand nog onderhou²
en so regeer dat loof en gras, reën en droogte, vrugbare en onvrugbare jare, voedsel en drank, gesondheid en siekte,
rykdom en armoede en alles nie by geval nie, maar uit sy Vaderhand ons toekom³.

Skrifverwysings:
1: Jeremia 23:23-24; Handelinge 17:24-28
2: Hebreërs 1:3
3: Spreuke 16:33; Matteus 10:29


Vraag 28: Watter nut het dit vir ons om te weet dat God alles deur sy voorsienigheid geskape het en onderhou?
Antwoord:
Dat ons in alle teëspoed geduldig¹,
in voorspoed dankbaar²
en vir die toekoms in ons getroue God en Vader volkome vertrouend sal wees³,
dat geen skepsel ons van sy liefde kan skei nie,
aangesien alle skepsels só in sy hand is dat hulle sonder sy wil nie kan roer of beweeg nie⁴.

Skrifverwysings:
1: Romeine 5:3; Jakobus 1:3
2: Deuteronomium 8:10
3: Romeine 8:38-39
4: Job 1:12; Matteus 10:29

© Attie Retief, 2025