Sondag 26

Sondag 26

Vraag 68: Hoeveel sakramente het Christus in die Nuwe Testament ingestel?
Antwoord:
Twee: die heilige doop en die heilige nagmaal.


Vraag 69: Hoe word jy in die heilige doop daaraan herinner en verseker dat die eenmalige offer van Christus aan die kruis vir jou van nut is?
Antwoord:
So: Christus het die uitwendige waterbad ingestel¹
en daarby beloof dat ek net so seker met sy bloed en Gees van die onreinheid van my siel, dit is van al my sondes, gewas is²,
as wat ek uitwendig met die water wat die onreinheid van die liggaam wegneem, gewas is³.

Skrifverwysings:
1: Matteus 28:19
2: Matteus 3:11; Markus 16:16
3: 1 Petrus 3:21


Vraag 70: Wat beteken dit om met die bloed en Gees van Christus gewas te wees?
Antwoord:
Dit beteken om van God vergewing van sondes uit genade te ontvang¹
ter wille van die bloed van Christus wat Hy in sy offer aan die kruis vir ons gestort het²
en verder ook om deur die Heilige Gees vernuwe en tot lede van Christus geheilig te word³,
sodat ons hoe langer hoe meer vir die sonde sterf en in ’n Godvresende, onberispelike lewe wandel⁴.

Skrifverwysings:
1: Hebreërs 12:24; 1 Petrus 1:2
2: 1 Johannes 1:7
3: 1 Korintiërs 6:11
4: Romeine 6:4


Vraag 71: Waar het Christus beloof dat Hy ons net so seker met sy bloed en Gees wil was as wat ons met die doopwater gewas word?
Antwoord:
In die instelling van die doop waar Hy sê: “Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees”¹;
en: “Wie glo en hom laat doop, sal gered word; maar wie nie glo nie, sal veroordeel word”².
Hierdie belofte word herhaal waar die Skrif die doop “die bad van die wedergeboorte” en “die afwassing van sondes” noem³.

Skrifverwysings:
1: Matteus 28:19
2: Markus 16:16
3: Titus 3:5; Handelinge 22:16

© Attie Retief, 2025