Sondag 34

Sondag 34

Vraag 92: Wat is die wet van die Here?
Antwoord:
Toe het God al hierdie woorde gespreek en gesê: Ek is die Here jou God wat jou uit Egipteland, uit die slawehuis, uitgelei het.
Jy mag geen ander gode voor My aangesig hê nie.
Jy mag vir jou geen gesnede beeld of enige gelykenis maak van wat bo in die hemel of onder op die aarde of in die water onder die aarde is nie.
Jy mag jou voor hulle nie neerbuig en hulle nie dien nie; want Ek, die Here jou God, is ’n jaloerse God wat die ongeregtigheid van die vaders besoek aan die kinders tot in die derde en vierde geslag van die wat My haat;
maar Ek bewys barmhartigheid aan duisende van die wat My liefhet en my gebooie onderhou.
Jy mag die Naam van die Here jou God nie ydellik gebruik nie, want die Here sal die een wat sy Naam ydellik gebruik, nie ongestraf laat bly nie.
Gedenk die sabbatdag dat jy dit heilig. Ses dae moet jy arbei en al jou werk doen;
maar die sewende dag is die sabbat van die Here jou God; dan mag jy geen werk doen nie – jy of jou seun of jou dogter of jou dienskneg of jou diensmaagd of jou vee of jou vreemdeling wat binne jou poorte is nie;
want in ses dae het die Here die hemel en die aarde gemaak, die see en alles wat daarin is, en op die sewende dag gerus; daarom het die Here die sabbatdag geseën en dit geheilig.
Eer jou vader en jou moeder, dat jou dae verleng mag word in die land wat die Here jou God aan jou gee.
Jy mag nie doodslaan nie.
Jy mag nie egbreek nie.
Jy mag nie steel nie.
Jy mag geen valse getuienis teen jou naaste spreek nie.
Jy mag nie jou naaste se huis begeer nie. Jy mag nie jou naaste se vrou begeer nie, of sy dienskneg of sy diensmaagd of sy os of sy esel of iets wat van jou naaste is nie.


Vraag 93: Hoe word hierdie gebooie verdeel?
Antwoord:
In twee tafels: die eerste leer ons hoe ons ons teenoor God moet gedra¹;
die tweede hoe ons ons teenoor ons naaste moet gedra².

Skrifverwysings:
1: Matteus 22:37-38
2: Matteus 22:39-40


Vraag 94: Wat eis God in die eerste gebod?
Antwoord:
Dat ek, tot my eie saligheid, alle afgodery¹, towery², bygeloof³, aanroeping van heiliges of ander skepsels verlaat en daarvan wegvlug⁴,
dat ek die enigste ware God reg leer ken⁵, Hom alleen vertrou⁶,
en in alle nederigheid en geduld van Hom alleen alles goeds verwag⁷,
en Hom van harte liefhê⁸, vrees⁹ en eer¹⁰,
sodat ek liewer alle skepsels versaak as om in die minste teen sy wil te doen¹¹.

Skrifverwysings:
1: 1 Korintiërs 6:9-10
2: Deuteronomium 18:10-12
3: 2 Konings 21:6
4: Matteus 4:10
5: Johannes 17:3
6: Jeremia 17:5, 7
7: Romeine 5:3-5
8: Deuteronomium 6:5
9: Psalm 111:10
10: Matteus 10:28
11: Matteus 5:29-30


Vraag 95: Wat is afgodery?
Antwoord:
Afgodery is om, in plaas van die enigste ware God wat Hom in sy Woord geopenbaar het,
of langs Hom, iets anders te bedink of te hê waarop die mens sy vertroue plaas¹.

Skrifverwysings:
1: Jeremia 2:13; 23:27; Psalm 81:9-11


© Attie Retief, 2025