Sondag 44
Vraag 113: Wat wil die tiende gebod hê?
Antwoord:
Dat selfs die kleinste begeerte of gedagte teen enige gebod van God nooit in ons hart mag opkom nie¹,
maar dat ons ons altyd van harte teen alle sonde moet verset²
en altyd in alle gehoorsaamheid aan God se gebooie moet lewe³.
Skrifverwysings:
1: Romeine 7:7-8
2: Galasiërs 5:17
3: Matteus 5:6
Vraag 114: Maar kan dié wat tot God bekeer is, hierdie gebooie volkome onderhou?
Antwoord:
Nee, want selfs die allerheiligste het in hierdie lewe nog maar ’n klein begin van hierdie gehoorsaamheid¹.
Tog begin hulle met ’n ernstige voorneme,
nie net volgens sommige nie,
maar volgens al die gebooie van God te lewe².
Skrifverwysings:
1: Romeine 7:14-15
2: Psalm 1:2; Romeine 7:22
Vraag 115: Waarom laat God hierdie tien gebooie so streng aan ons verkondig as niemand dit in hierdie lewe kan onderhou nie?
Antwoord:
Eerstens dat ons ons hele lewe lank ons sondige aard al hoe beter leer ken¹
en des te meer na vergifnis van sondes en geregtigheid in Christus soek².
Tweedens dat ons sonder ophou ons toewy aan die strewe om deur die genade van die Heilige Gees
meer en meer na die beeld van God vernuwe te word,
totdat ons uiteindelik na hierdie lewe die doel van volmaaktheid bereik³.
Skrifverwysings:
1: Romeine 3:20
2: Psalm 143:2; Jesaja 64:6
3: 1 Johannes 3:2-3; Filippense 3:12-14