Sondag 23

Sondag 23

Vraag 59: Maar wat help dit jou nou dat jy dit alles glo?
Antwoord:
Dat ek in Christus voor God geregverdig is¹ en ’n erfgenaam van die ewige lewe².

Skrifverwysings:
1: Habakuk 2:4; Romeine 1:17
2: Romeine 8:16-17


Vraag 60: Hoe is jy regverdig voor God?
Antwoord:
Slegs deur ’n ware geloof in Jesus Christus¹.
Al kla my gewete my aan dat ek teen al die gebooie van God swaar gesondig het
en geen daarvan gehou het nie²,
en dat ek nog altyd tot alle kwaad geneig is³,
tog skenk God my, sonder enige verdienste van my kant, uit loutere genade⁴,
die volkome genoegdoening, geregtigheid en heiligheid van Christus⁵.
Dit reken Hy my toe asof ek nooit sonde gehad of gedoen het nie,
ja, asof ek self al die gehoorsaamheid volbring het wat Christus vir my volbring het⁶,
in soverre ek hierdie weldaad met ’n gelowige hart aanneem⁷.

Skrifverwysings:
1: Romeine 3:21-28; Galasiërs 2:16
2: Romeine 3:9-10
3: Romeine 7:23
4: Efesiërs 2:8-9
5: 2 Korintiërs 5:21
6: Romeine 4:3-5
7: Johannes 3:18


Vraag 61: Waarom sê jy dat jy slegs deur die geloof regverdig is?
Antwoord:
Nie dat ek deur die waarde van my geloof vir God aanvaar word nie,
maar omdat alleen die genoegdoening van Christus, sy geregtigheid en heiligheid my geregtigheid voor God is¹,
en ek dit nie anders kan aanneem en my eie kan maak nie as alleen deur die geloof².

Skrifverwysings:
1: 1 Korintiërs 1:30-31
2: 1 Johannes 5:10-12


© Attie Retief, 2025