Sondag 45
Vraag 116: Waarom is gebed vir Christene nodig?
Antwoord:
Omdat dit die vernaamste deel van die dankbaarheid is wat God van ons eis¹,
en omdat God sy genade en Heilige Gees net aan dié wil gee wat Hom sonder ophou daarom bid
en Hom daarvoor dank².
Skrifverwysings:
1: Psalm 50:14-15
2: Matteus 7:7-8; Lukas 11:13; 1 Tessalonisense 5:17-18
Vraag 117: Wat behoort tot ’n gebed wat God behaag en deur Hom verhoor word?
Antwoord:
Eerstens dat ons die enigste ware God wat Hom in sy Woord aan ons geopenbaar het,
om alles bid wat Hy ons beveel het om van Hom te vra¹.
Tweedens dat ons ons geestelike en liggaamlike nood reg leer ken²
en voor sy aangesig diep verootmoedig³.
Derdens dat ons hierdie vaste grond het
dat Hy ons gebed om die ontwil van Christus sekerlik wil verhoor
soos Hy ons in sy Woord belowe het⁴.
Skrifverwysings:
1: Johannes 4:24; 1 Johannes 5:14
2: 2 Kronieke 20:12
3: Psalm 143:2
4: Johannes 14:13-14; Romeine 10:13
Vraag 118: Wat het God beveel om in ons gebede te vra?
Antwoord:
Alles wat vir die gees en die liggaam nodig is¹,
soos Christus in die gebed leer wat Hy self aan ons gegee het².
Skrifverwysings:
1: Matteus 6:33; Filippense 4:6
2: Matteus 6:9-13; Lukas 11:2-4
Vraag 119: Wat is daardie gebed?
Antwoord:
Ons Vader wat in die hemele is,
laat u Naam geheilig word.
Laat u koninkryk kom.
Laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde.
Gee ons vandag ons daaglikse brood,
en vergeef ons ons skulde,
soos ons ook ons skuldenaars vergewe.
En lei ons nie in versoeking nie,
maar verlos ons van die bose.
Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid.
Amen.