Sondag 11
Vraag 29: Waarom word die Seun van God “Jesus”, dit is Verlosser, genoem?
Antwoord:
Omdat Hy ons van al ons sondes verlos¹,
en omdat daar by niemand anders enige saligheid te soek of te vind is nie².
Skrifverwysings:
1: Matteus 1:21; Hebreërs 7:25
2: Handelinge 4:12; 1 Johannes 5:11-12
Vraag 30: Glo dié ook in die enigste Verlosser Jesus wat hulle saligheid en welstand by die heiliges, by hulleself of elders soek?
Antwoord:
Nee, want alhoewel hulle Hom met die mond roem,
verloën hulle Hom in die werklikheid¹.
Daar is net een van twee:
Óf Jesus is nie ’n volkome Verlosser nie,
óf diegene wat hierdie Verlosser met ’n ware geloof aanneem,
moet alles in Hom hê wat vir hulle saligheid nodig is².
Skrifverwysings:
1: Matteus 23:28; Galasiërs 5:4
2: Kolossense 2:10; Johannes 1:16