Sondag 27

Sondag 27

Vraag 72: Is die uitwendige waterbad self die afwassing van sondes?
Antwoord:
Nee¹, net die bloed van Jesus Christus en die Heilige Gees reinig ons van alle sondes².

Skrifverwysings:
1: Matteus 3:11; 1 Petrus 3:21
2: 1 Johannes 1:7; 1 Korintiërs 6:11


Vraag 73: Waarom noem die Heilige Gees die doop dan die bad van die wedergeboorte en die afwassing van sondes?
Antwoord:
God praat so met groot rede:
Hy wil ons daarmee leer dat soos die vuilheid van die liggaam deur water verdwyn,
so word ons sondes deur die bloed en Gees van Christus weggeneem¹;
en Hy wil ons deur hierdie Goddelike pand en teken verseker dat ons geestelik net so seker van ons sondes gewas is as wat ons liggaamlik met die water gewas is².

Skrifverwysings:
1: Openbaring 1:5; Handelinge 22:16
2: Romeine 6:3-4; Galasiërs 3:27


Vraag 74: Moet ook die klein kinders gedoop word?
Antwoord:
Ja, want aangesien hulle net soos die volwassenes in die verbond van God en sy gemeente ingesluit is¹
en aangesien aan hulle deur die bloed van Christus die verlossing van sondes en die Heilige Gees wat die geloof werk, belowe word²,
moet hulle ook deur die doop, as die teken van die verbond, by die Christelike kerk ingelyf word³
en van die kinders van ongelowiges onderskei word⁴,
soos in die Ou Verbond deur die besnydenis gebeur het⁵,
waarvoor in die Nuwe Verbond die doop ingestel is⁶.

Skrifverwysings:
1: Genesis 17:7; Handelinge 2:39
2: Lukas 1:14-15; Psalm 22:10-11
3: Handelinge 10:47
4: 1 Korintiërs 7:14
5: Genesis 17:14
6: Kolossense 2:11-13


© Attie Retief, 2025