Sondag 30

Sondag 30

Vraag 80: Wat is die verskil tussen die nagmaal van die Here en die pouslike mis?
Antwoord:
Die nagmaal getuig aan ons dat ons volkome vergifnis van al ons sondes het deur die eenmalige offer van Jesus Christus, wat Hy self eenmalig aan die kruis volbring het¹,
en dat ons deur die Heilige Gees met Christus verenig word².
Die pouslike mis leer dat die lewendes en die dooies nie deur die lyding van Christus vergewe word tensy Christus nog daagliks vir hulle deur die mispriesters geoffer word nie³,
en dat Christus liggaamlik onder die gedaante van brood en wyn is en daarom daarin aanbid moet word.
So is die mis in wese niks anders nie as ’n verloëning van die eenmalige offer en lyding van Jesus Christus,
en ’n vervloekte afgodediens⁴.

Skrifverwysings:
1: Hebreërs 7:27; 9:12, 25-28; 10:10, 14
2: 1 Korintiërs 6:17
3: Hebreërs 9:24-26
4: Matteus 15:9


Vraag 81: Wie moet aan die tafel van die Here kom?
Antwoord:
Dié wat vanweë hulle sondes ’n afkeer van hulleself het¹,
en tog vertrou dat hulle sondes vergewe is en dat ook die oorblywende swakheid met die lyding en dood van Christus bedek is²,
en wat ook begeer om hulle geloof al hoe meer te versterk en hulle lewe te verbeter³.
Maar die huigelaars en dié wat hulle nie van harte tot God bekeer nie, eet en drink vir hulleself ’n oordeel⁴.

Skrifverwysings:
1: 1 Korintiërs 10:19-22
2: Psalm 103:1-5
3: 1 Korintiërs 11:28
4: 1 Korintiërs 11:29


Vraag 82: Moet diegene wat met hulle belydenis en lewe wys dat hulle ongelowig en goddeloos is, tot hierdie maaltyd toegelaat word?
Antwoord:
Nee, want so word die verbond van God ontheilig en sy toorn oor die hele gemeente opgewek¹.
Daarom is die Christelike kerk verplig om ooreenkomstig die bevel van Christus en sy apostels sulke mense deur die sleutels van die koninkryk van die hemel uit te sluit totdat hulle hulle lewe verbeter².

Skrifverwysings:
1: Psalm 50:16; Jesaja 1:11-17
2: Matteus 18:15-18; 1 Korintiërs 5:6-7, 11-13

© Attie Retief, 2025